26 dae gelede
Superrugby nou uitgestel
DURBAN, SOUTH AFRICA - MARCH 14: Herschel Jantjies
MAAK OOP: Herschel Jantjies het die Stormers se eerste drie gedruk.  ~ Gallo Images

DIE Sharks het die Stormers Saterdag op Kings Park ’n rugbyles geleer en welverdiend met 24-14 gewen.

Die stryd het teen ’n frenetiese pas begin. Johan du Toit het met die afskop ’n geel kaart gekry ná ’n gevaarlike tackle op Louis Schreuder.

Die volgende 20 minute was maar ’n getjommel met Jean-Luc du Plessis en Curwin Bosch wat hoofsaaklik met hulle skoppe druk op die opposisie gesit het.

Du Plessis is kort daarna van die veld af met ’n besering. Damian Willemse is na losskakel geskuif.

Aphelele Fassi, die Sharks se kookwater-heelagter, het die telbord aan die rol gesit toe hy ná 26 minute gaan druk het danksy ’n goeie aangee van Bosch.

Die Stormers het egter onmiddellik teruggeslaan toe Herschel Jantjies gaan druk het ná goeie samespel tussen Juarno Augustus en Dillyn Leyds.

’n Strafdoel deur Bosch het die rustytdtelling op 10-7 in die tuisspan se guns te staan gebring.

Die tweede helfte het meer skoprugby opgelewer. Albei spanne het die bal by tye lug gegee.

Augustus het sy tweestryd met Sikhumbuzo Notshe loshande gewen en was instrumenteel in die Stormers se tweede drie – toe hy Paul de Wet weggestuur om te gaan druk.

Die Sharks het die Stormers se Bok-voorry voos geskrum en talle strafskoppe by die skrums gewen.

Bosch het die telbord aan die rol gehou met strafdoele voordat Makazole Mapimpi die spyker in die besoekers se doodskis geslaan het met ’n drie in die doodsnikke van die wedstryd.

  • Intussen het Sanzaar aangekondig die Superrugby-kompetisie word vir eers gestaak weens die corona-virus-pandemie.

Andy Marinos, Sanzaar-grootkop, sê: “Ons is uiters teleurgesteld vir die spelers, ondersteuners, uitsaaiers en ons vennote, maar gegewe die kompetisie-strukture se kompleksiteit en die geografiese dele wat ons dek, het ons geen ander keuse nie.”

Puntemakers:

SHARKS drieë: Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi; doelskoppe; Curwin Bosch (1); strafdoele (3); skepdoel (1).

STORMERSdrieë: Herschel Jantjies, Paul de Wet; doelskoppe: Damian Willlemse (2).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters