15 dae gelede
Stormers se diepte omtrént uitgedun
MAKAZOLE MAPIMPI Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Suid-Afrikaanse rugbybedryf se omstrede 21-dae-klousule het ’n paar verrassings opgelewer.

Dit het Donderdag omtrent nes sokker se transfer deadline-dag gelyk soos unies en agente spelerbewegings aangekondig het.

Die Stormers het die dienste van die losskakel Jean-Luc du Plessis en die veelsydige voorspeler Cobus Wiese verloor, terwyl die Lions onder andere vir Malcolm Marx verloor het.

Die Sharks se Makazole Mapimpi het na bewering ’n aanbod van R9 miljoen per jaar van ’n Japanse klub van die hand gewys. Hy gaan vir eers by sy span bly.

Curwin Bosch, Aphelele Fassi, Thomas du Toit en Ruben van Heerden het ook aanbiedinge van die hand gewys en besluit om in Durban aan te bly.

Tyler Paul (Japan) en Andisa Ntsila (Cheetahs) is egter vir die Sharks verlore.

Benewens Marx het die Lions ook die belowende Tyron Green, Ruan Vermaak en selfs die hulpafrigter Neil de Bruin verloor.

Skuif

Hul mees ervare speler en kaptein, Elton Jantjies, is ook met ’n skuif na Japan verbind, maar dit lyk asof dié Bok-losskakel in Gauteng gaan aanbly.

Die Stormers se losskakel-diepte lyk skielik yl ná Du Plessis se vertrek.

Al is Damian Willemse vroeër met ’n skuif na die Bulls gelink, het daar dadels van gekom. Hy sal die Stormers se eerste keuse op losskakel wees, met die jong Abner van Reenen wat adjudant sal wees. Die 23-jarige Paarliet toon belofte, maar hy is ongetoets op Superrugby-vlak wat ’n bron van kommer vir John Dobson kan wees.

Die Stormers het Dillyn Leyds al sporadies op losskakel ingespan, maar hy gaan voortaan vir La Rochelle in Frankryk speel. Van Reenen sal dus sy kans moet gryp wanneer dit kom.

Dinge is steeds aan die gebeur by die Bulls, met die Ligbloues wat vandeesweek die dienste van die Springbokke Gio Aplon en Arno Botha aangekondig het.

Die onsekerheid oor Pieter-Steph du Toit se toekoms is iets van die verlede. Hy’s verlore vir die Stormers (lees berig op bl. 16).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters