8 dae gelede
Steve: Ons was nie kalm
Tweestryd: Stellenbosch se Lelethu Skelem (links) probeer Maritzburg United se Rushine de Reuck afskud.  ~ Melinda Stuurman

VERSPEELDE kanse het daartoe gelei dat Stellenbosch by die eerste hekkie van die aanloklike Nedbank Cup-reeks gestruikel het.

Met die telling 2-1 in die guns van Stellies het die tuisspan ’n fantastiese geleentheid verspeel om die wedstryd buite die bereik van die besoekers – Maritzburg United – te plaas.

Vasgeval

Bongani Mpandle, Maritzburg se goalie, het egter Ryan Moon se kopskoot van binne die doelgebied uitstekend gekeer.

Dit was ook die keerpunt in die wedstryd wat Eric Tinkler se span nóg ’n sniff van sukses gegee het.

Dis ook die rede waarom Stellies met 4-5 (2-2) met penalties vasgeval het teen die Team of Choice.

Steve Barker, Stellenbosch-breier, het dié wedstryd gebruik om van sy fringe-spelers in te span.

Talle van die spelers het heel goed gespeel en Barker beslis iets gegee om aan te dink vir die res van die seisoen.

Die afrigter was egter bitter teleurgesteld ná die wedstryd, aangesien sy span ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip het in dié Dawid-teen-Goliat-bekerreeks-kompetisie.

Die ervare Barker meen dat sy spelers met net ’n bietjie meer kalmte beslis die wedstryd reeds vroeg buite Maritzburg se bereik kon geplaas het.

“As ons ’n derde doel kon aan­teken, dink ek nie Maritzburg sou terug kon kom nie,” reken hy.

“Met die regte kwaliteit in die final third en ’n bietjie meer kalmte, was ons eerste oor die wenstreep in hierdie wedstryd, jy weet.

“Ek het self gedink ons was die gunsteling om te score en die game in extra time te wen, want dit het gelyk asof hulle bereid was om die game met penalties te settle.

“En, jy weet, dis maar altyd ’n lottery.

“Beste wense vir Maritzburg en ons sal nou nét op die liga fokus,” voeg Barker by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters