3 maande gelede
Speeltyd vir WP teen Pumas wys dinge lyk nog reg vir Bok-kaptein
SIYA KOLISIFoto: Gallo Images  ~ 

RASSIE Erasmus, die Springbok-breier, sou Vrydagaand ’n sug van verligting geslaak het.

Erasmus se kaptein vir vanjaar se World Cup-veldtog in Japan, Siya Kolisi, het ’n suksesvolle terugkeer van ’n kniebesering gemaak.

Met die Westelike Provinsie se oorwinning van 45-14 oor die Pumas op Nuweland het Kolisi nie die wêreld aan die brand gespeel nie. Die Bokke se coach sal egter gelukkig wees dat sy kaptein ’n kans gekry het om te wys hy het sy besering afgeskud.

Ná sy lang lay-off het Kolisi ’n bietjie verroes voorgekom.

Hy het die meerderheid van die eerste helfte in die agterlyn gehang en was nie in baie kontaksituasies betrokke nie.

Suid-Afrika se inspirerende leier het sowat 47 minute speeltyd gekry.

Hy behoort tevrede te wees dat hy ongedeerd daardeur gekom het.

Volgens John Dobson, afrigter van die WP, was dit die plan dat Kolisi die bal in die wye kanale moet dra.

Dobson het oor Kolisi se vertoning gesê: “Dit was ’n vreemde game. Ek het agterna met hom (Kolisi) gepraat.

“Daar was ’n gebrek aan ritme in ons spel. Siya kry dikwels die bal in die wye kanale.

“Hy wag vir die bal om terug te kom na hom.

“Die bal het egter nie by hom uitgekom nie, want ons het onmiddellik gescore voordat die bal hom nog in die wye kanale kon bereik.”

Die coach van die Streeptruie was nietemin heel tevrede met Kolisi se vertoning.

“Siya het nie net die bal goed gedra nie, maar in terme van sy fisieke teenwoordigheid, sy werketiek en die dinge wat hy by die afbreekpunte gedoen het, was hy baie goed.

“Ek het hom in die rustyd gevra of hy wil ophou speel.

“Hy wou aanhou speel en het gevra om ’n bietjie langer op die veld te bly,” het Dobson verduidelik.

Die groentjie Nama Xaba het Kolisi vervang. Die 22-jarige het goed in sy debuut gevaar en gewys waarom hy so hoog aangeskryf is.

“Ek dink Xaba is die toekoms in die nr. 6-trui by dié unie. Hy is nog ’n bietjie rou, maar ons het lanklaas ’n spesialis-baljagter soos hy gehad,” het Dobson afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters