10 dae gelede
Slegs 2 tans op Kings se boeke
nuwe deal: CJ Velleman sal volgende seisoen weer vir die Kings speel. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

MET net ietwat meer as vier maande oor voor die afskop van die Southern Kings se derde Pro14-seisoen het die span tot dusver net twee spelers.

Die Kings se tweede Pro14-reeks het onlangs geëindig met net twee oorwinnings en een gelykop uitslag uit hulle 21 wedstryde.

Daar is tans groot ’n werwingsproses aan die gang vir die nuwe seisoen. Son op Sondag het betroubaar verneem die Kings het sover net die vleuel Yaw Penxe en flank CJ Velleman laat sign.

Aksie

Penxe is goed op dreef en is met ag drieë die Kings se voorste driedrukker in die Pro14.

Volgens die Kings-breier, Deon Davids, staan hy ’n kans om in die Springbok-groep te wees.

Velleman het weer ’n sukkel-seisoen agter die rug nadat hy lank weens ’n kniebesering buite aksie was, maar hy word steeds as een van die beste jong flanke beskou.

Demetri Catrakilis, losskakel van die Engelse span Harlequins, is ook ’n naam wat sedert die einde van die seisoen genoem is.

Volgens Son op Sondag se bron is onderhandelings met die voormalige Kings-losskakel steeds aan die gang.

Son het vroeër dié week berig die stut IG Prinsloo van die klub Naka Bulls in Pretoria is ook op pad na die Kings. Dié klub het egter nog niks bevestig nie.

Daar heers tans doodse stilte by die Kings se hoofkwartier nadat daar verlede week ’n intensiewe ondersoek oor die afgelope seisoen begin is.

Na wat verneem word, sal daar aan verskeie spelers nie nuwe kontrakte aangebied word nie.

Davids se toekoms by die franchise is ook ’n besprekingspunt.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters