4 maande gelede
Slaggereed vir die Ashes
AANSKOULIK: Die ervare Stuart Broad wil weer die Aussies se paaltjies vier.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE boulers lek hulle lippe af vir die Ashes-krieketreeks wat Donderdag met die eerste toets op Edgbaston in Birmingham begin.

Dit lyk asof ’n moeilike tyd op die kolwers wag wanneer die tradi­sionele aartsvyande, Engeland en Australië, mekaar gaan pak.

In hulle voorbereiding vir die toetse het albei spanne se kolwers in die Engelse toestande kleigetrap – die Aussies in ’n onderlinge groepwedstryd en die Engelse in ’n toets teen Ierland.

Al word dit as die warmste somer in Europa in baie jare beskou, sal die poppe dans wanneer die kolwers hulle staal in bewolkte toestande moet wys.

Die Engelse Duke-bal hoef ook nie altyd met skuurpapier aangemoedig te word om swaaibewegings uit te haal nie. Dis dus geen wonder dat albei spanne hulle groepe met vinnige boulers laai nie.

Australië het verras met die insluiting van die Oueenslander Michael Neser, wat nie toetservaring het nie.

Die Aussies voel egter Neser weet hoe om die bal te swaai, weg en in na die kolwers, wanneer die toestande daarvoor gunstig is.

Sy insluiting in die groep gee aan Australië hope opsies wanneer die naataanval saamgestel gaan word om ’n eerste Ashes-reekssege in Engeland sedert 2001 te probeer verseker.

Pat Cummins, die nommer 1-bouler op die wêreldranglys, sal die snelaanslag lei.

Mitchell Starc, Josh Hazlewood, James Pattinson en die ervare Peter Siddle se teenwoordigheid sal bydra tot die Engelse kolwers se slapeloosheid. Die veelsydige Mitchell Marsh kan ook nog iewers plek in die naataanval kry.

Skarrel

“Ons het goeie diepte waaruit ons die elftal kan kies. Dit is vir ons ’n baie positiewe aspek,” het Australië se keurderbaas, Trevor Hohns, gesê.

“Die spelers het uitstekend voorberei. Ons is slaggereed,” het Hohns die tuisspan gewaarsku.

Engeland is ook verwoed aan die skarrel om sy snelaanval gereed te kry, want daar is ’n paar spelers wat met skete sukkel.

Daar is twyfel of die ervare James Anderson betyds fiks sal wees vir die eerste toets.

Jofra Archer is in dieselfde bootjie en Mark Wood sal beslis eers later in die reeks gesien word.

Stuart Broad en Chris Woakes het egter teen Ierland geskitter en is reg om die aanval te lei.

Broad is in sy skik daarmee dat die beproefde weergawe van die Duke-bal in die reeks gebruik gaan word. “Dit sal die reeks interessanter en opwindender maak.

“Dit sal verseker dat daar op ’n warm dag op ’n droë blad nie ’n magdom lopies aangeteken word en almal hande skud nie.”

Die Engelse skares het in die onlangse Wêreldbeker-toernooi gewys hulle is ook reg vir die reeks.

Hulle is reg om die Aussies, veral David Warner, Steve Smith en Cameron Bancroft, wat vir die eerste keer terug is in die toetsarena ná hulle skorsing vir balpeutery, ’n harde tyd te gee.

Die krieketwêreld sien egter die meeste daarna uit om te aanskou wie gee vir wie die hardste tyd op de veld in nóg ’n Ashes-reeks wat die verbeelding sal aangryp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters