22 dae gelede
Skotte sal op Sexton fokus
geteiken: Johnny Sexton van Ierland het ’n teiken op sy rug. Foto:GETTY IMAGES  ~ 

DIE Iere is die oorweldigende gunsteling om vandag hulle rekening in die Rugby World Cup met ’n oorwinning oop te maak.

Wedstryde word egter nie op papier gewen nie, maar die Iere sou uit vier jaar gelede se hartseer geleer het. Dit was toe Argentinië hulle in die kwarteindronde uitgeboender het.

Vandag se kragmeting teen Skotland is egter ’n wedstryd in die groepfase, maar dit is steeds van groot belang.

Skrik

Die wenner hiervan sal heel moontlik as topspan uit groep A vir die kwarteindronde kwalifiseer.

Joe Schmidt, die Ierse breier, sal dus niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Skotland het al in die onlangse verlede die Iere skrik gemaak. Twee jaar gelede het die Skotte die Iere stukkend gehol in die Sesnasies-kompetisie.

En Gregor Townsend, die Skotte se breier, het reeds probeer mind games speel. Hy glo daar is swak plekke in die Ierse spel wat blootgestel kan word. Een swak plek is dat die Iere vandag met ’n minder ervare span opdraf.

Talle spelers speel in hulle eerste World Cup, maar in Rory Best (kaptein) en Johnny Sexton (losskakel) het die Iere enorme slaankrag, veral wat ervaring betref.

Dit sal Best, wat haker speel, se vierde World Cup saam met die Iere wees, terwyl Sexton die vorige twee toernooie (in Nieu-Seeland en Engeland) ervaar het.

In ontmoetings in alle kompetisies tussen dié twee spanne is dit ook ’n baie tight affair.

Die Iere spog met 63 oorwinnings en Skotland met 67, terwyl daar 6 gelykop uitslae was.

Om Ierland te klop, is Sexton, laas jaar se wêreldspeler van die jaar, iemand wat jy moet kortwiek. Dít is gewoonlik die meeste spanne se mantra.

Wat die Skotte egter moet regkry, is om ’n baie fisieke pak voorspelers van die Iere te oordonder. Dit gaan baie moeilik vir hulle wees.

Ierland behoort dié een baie gemaklik te wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters