13 dae gelede
Silva verloor nie slaap oor toekoms
Marco Silva  ~ Getty Images

MARCO Silva, bestuurder van Everton, beweer hy verloor glad nie slaap oor sy toekoms by die klub nie.

Die Portugees se lot hang aan ’n draadjie, oor sy Merseyside-span in die relegasiemoeras is en die 16de posisie op die punteleer beklee.

Everton se fans het reeds vir sy kop gevra ná laas week se nederlaag van 0-2 teen Norwich City.

Die Toffees, soos Everton genoem word, het vandag nog ’n uitdagende stryd teen Brendan Rodgers se indrukwekkende Leicester City.

’n Mens kan nie help om te wonder of Silva nog in beheer sal wees ná dié stryd nie.

Probleem

Everton se direkteur van sokker, Marcel Brands, reken almal by die klub “moet saam staan”.

Silva het gesê hy’t geen probleem om saans sy oë toe te maak nie.

“Natuurlik kry ek slaap,” verduidelik Silva.

“As jy elke dag jou bes doen, waarom sal jy nie kan slaap nie?

“Ek mors nie tyd om hieroor te worry nie. My fokus is op dit wat ek kan beheer,” aldus Silva.

Die realiteit is dat Silva wel oor die volgende paar weke gepos kan word.

Dis omdat hulle volgende paar wedstryde teen spanne is wat almal posisies onder die topvier beklee, en die kanse is baie skraal dat hulle sukses sal kan behaal. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters