22 dae gelede
Sharks kom weer nie mas op in Durban
PRAGSPEL: Aphelele Fassie het eerste vir die Sharks teen die Hurricanes agter die doellyn gaan kuier.Foto:’s Gallo Images  ~ 

DIE Sharks se swak rekord op hulle tuisveld het gister voortgeduur.

Robert du Preez, afrigter, se span het gister op Kingspark weer nie die mas opgekom nie.

Die span van Durban het met 17-30 teen die Hurricanes vasgeval.

Dié nederlaag beteken waarskynlik dat die Sharks dit nou vir hulself baie moeilik gemaak het om nog ’n kans te staan om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Die Hurricanes het die Sharks met hul fisieke inklimspel voorlangs oordonder.

Die span van Wellington was veral verwoestend by die afbreekpunte. Die span het ook elke keer gevaarlik gelyk op die teenaanval.

Dit was veral die Barrett-broers Beauden en Jordie wat die oog gevang het met hulle ondernemende spel. Dié twee het goed gekombineer vir die span se eerste drie.

Ngani Laumape het ook met ’n kenmerkende kraglopie ’n puik drie gaan druk.

Hulle eerste drie het in die tweede helfte van die blitsige vleuel Wes Goosen gekom.

Daarteenoor het die Sharks se Aphelele Fassi en Juan Schoeman ook een drie elk vir die tuisspan gaan score.

Die tweeling Dan en Jean-Luc du Preez op agsteman en flank onderskeidelik het deurgaans hard probeer met die bal in die hand.

Fassi is weer onnodig deur die Sharks se coach in die tweede helfte vervang om plek te maak vir sy seun Robert jr.

Curwin Bosch, wat die game goed beheer het, moes weer na heelagter skuif. Dié verandering het net soos in vorige games die Sharks se ritme versteur.

John Plumtree, voormalige coach van die Sharks, kon tevrede wees met sy huidige span se vertoning.

puntemakers

HURRICANES – drieë: Jordie Barrett, Ngani Laumape, Wes Goosen; doelskoppe: Beauden Barrett (3); strafdoele: Barrett (3).

SHARKS – drieë: Aphelele Fassi, Juan Schoeman; doelskoppe: Curwin Bosch (2), strafdoel: Bosch.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters