22 dae gelede
Shamsi is reg vir Indië
’n towenaar: Tabraiz Shamsi se draaiballe moet die Proteas vandag help. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

TABRAIZ Shamsi, Suid-Afrika se hotklou-draaibalbouler, wil vandag die rol van party pooper speel.

Dit is wanneer die Proteas die Indiese span in die derde en laaste T20-wedstryd in Bengaluru pak.

Suid-Afrika kan met ’n sege ver­seker dat dié reeks gelykop eindig voordat sy eendaagse reeks teen die Indiërs begin.

Indië het die tweede T20 gewen nadat die eerste game in die reeks uitgereën het.

Shamsi is opgesaal om dinge vir die T20-krieketspan van Indië in die derde T20-wedstryd sommer goed moeilik te maak.

Shamsi glo die T20-formaat is ’n kolwersparadys en dis sy job om kolwers goedkoop uit te boul.

Dit is waarom hy môre sy draaibal-towerkuns op die Indiese kolwers gaan uitoefen om hulle paartie-planne te kelder.

“Die Chinnaswamy Stadion is klein en dis ’n T20-wedstryd. Die toeskouers kom kyk na die kolwers en hoe hulle viere en sesse moker.

Verwagting

“Hulle kom nie om te sien hoe boulers hulle helde uitboender of leë boulbeurte afstuur nie. Ongelukkig is dit my job om die kolwers so gou moontlik uit te kry en dit wil ek doen,’’ vertel Shamsi.

Die verwagting is dat Shamsi (29) sy plek in die span sal behou ná sy goeie vertoning in die tweede game in Mohali. Hy het 1/19 in sy drie beurte platgetrek.

Indië was egter gemaklik met sewe paaltjies baas.

Shamsi is ’n doelgerigte speler wat soms nie ernstig opgeneem word nie, want hy hou daarvan om die grapjas in die groep te wees. Hy het ook ’n liefde vir towerkuns, wat hy sedert sy skooldae ontwikkel het.

“Ek hou altyd daarvan om mense te laat lag, en dit is ook wat ek probeer om op die veld te bring,” het hy verduidelik.

Shamsi is goed vertroud met die Chinnaswamy Stadion se toestande. Hy het in die Indiese Premier­liga vir die Royal Challengers Bangalore daar gespeel.

Hy het vir drie jaar vir dié franchise saam met die Indiese kaptein, Virat Kohli, Chris Gayle van die Windies en Shane Watson van Australië gespeel.

Vandag is Kohli se paaltjie hoog op Shamsi se lys van slagoffers.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters