13 dae gelede
Shag gelukkig met groot sege
vierkuns: George Bridge op pad doellyn toe vir een van sy vier drieë teen Tonga.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

OM MET 92-7 te wen klink meer asof die All Blacks rugby gespeel het teen ’n plaas­like klubspan in Hamilton.

Die opposisie was egter inter­nasionaal, maar die verskil tussen die krag van Nieu-Seelandse rugby en dié van Tonga was duidelik sigbaar.

Die All Blacks het 14 drieë op pad na die sege gedruk met die telling in ’n stadium 92-0.

Die Polinesiërs het kort voor die einde van die kragmeting gaan druk om so ’n bietjie aansien terug te kry.

Net die eerste 10 minute – en dan so ’n bietjie meer – was daar ’n bietjie kompeterende rugby.

Toe Sevu Reece egter vir die Kiwi’s se eerste drie die doellyn oorsteek, was dit one-way traffic.

Maar dit gaan beslis nie een­rigtingverkeer wees wanneer Steve “Shag” Hansen (afrigter) en sy All Blacks op 21 September in die Wêreldbekertoernooi teen die Springbokke speel nie.

Tog is Hansen tevrede met dié eensydige oorwinning.

Hy het ná die game gesê: “Almal het speelkans gekry en daar was geen beserings nie.

“Ons het baie goeie rugby gespeel en die kans gekry om sekere kombinasies uit te toets.”

Volgens Hansen het gister se game meer daaroor gegaan om die manne te laat rugby speel en net die gevoel van kontak te kry, om ’n bietjie aan die vaste fasette (skrums en lynstane) te skaaf en die verdediging te toets.

“Dis waaroor rugby gaan en oor twee weke speel ons in ’n enorme game.

“Daarom is dit belangrik dat ons vandag kon speel, want anders was ons in die moeilikheid.

“Die telling maak nie vir my saak nie. Dit gaan vir my oor wat ons gedoen het en ek is baie gelukkig,” het Hansen gesê. 

puntemakers

ALL BLACKS – drieë: Sevu Reece, Codie Taylor, Ben Smith (2), George Bridge (4), Kieran Read, TJ Perenara, Ryan Crotty (2), Matt Todd, Ardie Savea; doelskoppe: Beauden Barrett (7), TJ Ioane (4)

TONGA – drie: Siale Piutau; doelskop: Sonatane Takulua.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters