13 dae gelede
Saca soek nuwe baas
maak klaar: Tony Irish verlaat Saca aan die einde van die jaar. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

KRIEKETSPELERS in Suid-Afrika is op soek na ’n nuwe voorsitter om hulle regte te beskerm.

Tony Irish het besluit om as uitvoerende voorsitter van die spelers se beheerliggaam, Saca, te bedank. Hy los darem nie Saca in sak en as nie. Hy sal die pos nog tot en met Desember beklee terwyl daar na ’n geskikte opvolger gesoek word.

Saca beleef een van sy besigste jare. Die spelers het al met ’n strike gedreig oor Krieket Suid-Afrika (KSA) se planne om die getal beroepspelers te sny en weg te doen met franchise-krieket.

Die KSA wil terugkeer na ’n provinsiale struktuur, maar dan sal minder spelers pro-kontrakte kry. Ander spelers sal as semi-professionele spelers gekontrakteer word.

Die KSA wil weens ’n geldknyp dié veranderinge maak. Met onderhandelinge tussen Saca en die KSA nog aan die gang, is dit dalk goed dat Irish eers in Desember die pos verlaat.

Irish, wat ook dien as uitvoerende voorsitter van krieketspelers se internasionale beheerliggaam, Fica, sal vanaf Januarie 2020 die nuwe CEO word van die PCA (beroepspelersvereniging) in Wallis en Engeland.

Droom

Irish het besluit om die PCA-pos te aanvaar, want hy kon nie die geleentheid deur sy vingers laat glip om die wêreld se grootste spelersvereniging te lei nie.

“Toe Saca in 2002 begin, sou ek nooit kon droom dat dit die vereniging sou word wat dit nou is nie,” het Irish gesê.

“Dit is alles moontlik gemaak deur eenheid en ondersteuning van beroepspelers en bedryfspanne.”

Die Saca-president en Lions-krieketspeler Omphile Ramela het luidens die beheerliggaam se verklaring gesê dit is hartseer om Irish as voorsitter te verloor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters