2 maande gelede
Saak teen Roux wéér uitgestel
onskuldig? Jurie Roux glo hy het wettig opgetree toe hy destyds by die Universiteit Stellenbosch gewerk het.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIT lyk asof die siviele saak teen die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie nooit gaan plaasvind nie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se saak teen Jurie Roux moes môre in die Kaapstadse hooggeregshof begin.

Daar is egter Vrydag aangekondig dat die saak teen Roux nou onbepaald uitgestel is.

Verklaring

Roux word deur die US vir R37 miljoen gedagvaar.

Die dagvaarding spruit uit bewerings van finansiële ongerymdhede toe Roux nog werksaam was by die US.

Roux het Vrydag in ’n beëdigde­ verklaring vir die eerste keer sy stilte verbreek oor die aanklagte teen hom.

Volgens die nasionale rugbybaas is hy glad nie ’n bedrag van R37 miljoen aan die US verskuldig nie.

Roux sê die geld waarvoor hy gedagvaar word, is vir wettige uitgawes gebruik en dit is tot voordeel van die US aangegaan.

Hy voer verder aan dat die US nooit weens sy aksies ’n verlies gely het nie en dat hy hard gewerk het om die US se finansies en bestuurstelsel te versterk.

Verder af in sy verklaring erken Roux wel dat hy in ’n stadium van sy werksaamheid by die US die destydse afrigter van die Maties en huidige breier van die Junior Springbokke, Chean Roux, gevra het om ’n bedrag van R55 250 aan hom oor te betaal.

Jurie sê egter die geld is op ’n wettige manier deur Chean van die US ontvang en was vir ’n terugbetaling vir uitgawes wat hy uit sy eie sak aangegaan het.

Daar word nou op die hooggeregshof gewag om ’n nuwe datum vir die begin van die saak te bevestig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters