12 dae gelede
SA-spelers se toekoms tans duister
sy laaste keer? Faf du Plessis lei die Proteas op die krieketveld. Foto: getty images  ~ 

MET die World Cup nou amptelik verby uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt, is daar verskeie vrae oor die toekoms van sekere spelers in ons nasionale span.

Gaan Faf du Plessis nog die kaptein wees en wie, behalwe JP Duminy en Imran Tahir, gaan ná ’n vrot toernooi nog beskikbaar wees om vir die Proteas te speel?

Dan weet Krieket Suid-Afrika se boontjietellers ook nie aan watter jong talent hulle gaan vasklou nie, want om Kolpak-kontrakte te sluit, is deesdae die in-ding.

Du Plessis meen daar is niks wat die Internasionale Krieketraad tans aan die uittog van talentvolle spelers kan doen uit lande wat nie so baie geld het soos Indië, Engeland en Australië nie.

“Ek weet die KSA probeer ’n plan aanmekaarsit om ons talentvolle spelers in die land te hou,” sê hy.

“Daar is egter in Suid-Afrikaanse krieket twee groepe spelers. Jy kry meer jou toetskrieketspelers en vir hulle is die Kolpak-opsie die groot geelwortel wat voor hul neuse hang.

Verlaat

“Dan kry jy jou witbal-spesialiste wat graag meer in T20-toernooie wil gaan speel. Dit is die twee areas wat ’n groot concern vir krieketspelers in Suid-Afrika is.

“Uit ’n eendagkrieket-oogpunt sal spelers wat ná die World Cup besluit om die Proteas te verlaat, probeer om meer T20-krieket te gaan speel.

“Ek weet JP (Duminy) beplan om dit te gaan doen voordat hy uittree.

“Vir al ons spelers raak dit nogal ’n groot kwessie hoe ons kan aanhou besluit om eerder weg te bly daarvan om T20 te speel,” aldus Du Plessis.

Die Protea-kaptein meen in ’n perfekte wêreld sou dit lekker gewees het as Protea-spelers se salarisse gesubsidieer kon word, maar ongelukkig is Suid-Afrika een van vele lande wat nie die finansiële kapasiteit het nie.

“Indië, Engeland en Australië sal maar altyd die geldryke lande bly. As dit ooit verander, sal dit wonderlik vir die res van die wêreld wees. Dis egter nog lank voordat dit gebeur.

“Vir Indiese en Australiese spelers is dit maklik om in hulle land te bly en krieket te speel,” verduidelik Du Plessis. “Hulle geldeenheid is sterk en die aanbiedinge wat hulle kry, verskil van wat ander lande kry.

“Kyk net hoeveel spelers die Wes-Indiese Eilande aan T20-krieket­ligas oor die wêreld afgestaan het.

“Ons is saam met die Windies, Sri Lanka, Nieu-Seeland en Pakistan in daai groep wat as tweederangse lande beskou word.”

Maar met ál die KSA se geldelik probleme voel Du Plessis daar is genoeg jong en talentvolle spelers wat tans op nasionale vlak deurkom.

“Dit wys daar is talent en al het ons in die World Cup gesukkel, is ons besig om goeie vertonings op te dis. Dis nie asof ons agtereenvolgens voor dit verloor het nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters