10 dae gelede
SA se pro’s so gesny
rassie erasmusFoto: getty images  ~ 

RUBGYSPELERS wat droom van eendag op professionele vlak en vir die Springbokke speel, sal twee keer oor só ’n loopbaankeuse moet nadink.

Dit volg nadat plaaslike rugbyunies nie meer sal kan toustaan om hordes talentvolle spelers professioneel te kontrakteer nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), die vakbond vir werknemers in rugby (Sareo) en MyPlayers, die rugbyspelersunie, het Vrydag aangekondig ’n ooreenkoms vir ’n nuwe kontrakteringsmodel vir professionele rugby is bereik.

Sekerheid

Ál die rugbyunies verbonde aan Saru het ook die groen lig vir die nuwe kontrakteringsmodel gegee.

Vir die eerste keer sedert 1996 sal Saru nie Bok-spelers direk kontrakteer nie. Daar is ook ’n deal bereik oor ’n salary cap vir spelers op provinsiale vlak.

Volgens Eugene Henning, hoof van MyPlayers, gee die nuwe kontrakteringsmodel meer duidelikheid en sekerheid aan spelers oor hulle toekoms as wat tans die geval is. “Daar is kontrakte wat in Oktober verval en dan weet spelers nie of hulle ’n aanbod van franchises gaan kry of elders moet kyk nie.”

Rassie Erasmus, Saru-direkteur van rugby, glo ook die nuwe model sal help om talent te identifiseer, bestuur en die beste spelers te beloon.

Vier belangrike besluite in die ooreenkoms is:

1. Die ontwikkeling van spelers wat vir nasionale diens geoormerk word, sal deur unies en die Springbok-span se bestuur behartig word.

2. Net ’n sekere begroting en getal spelers word per unie toegelaat.

3. Daar is ook verskeie kategorieë vir betaling – professioneel, semi-professioneel en ontwikkelende spelers (spelers 21 jaar en jonger wat nie professionele kontrakte het nie).

4. Daar word ’n toegewydheidsklousule by jong spelers se kontrak ingebou. Jong spelers sal beloon word as hulle hulle daartoe verbind om langer rugby in SA te speel.

Die nuwe kategorieë waarvolgens hulle geklassifiseer word:

1. Professionele spelers: Spelers op Superrugby-, Pro14- en Curriebeker-Premierliga-vlak.

2. Semi-professionele spelers: Slegs gekontrakteer om in die Curriebeker se Eerste Liga en SuperSport Rugby Challenge te speel.

3. Ontwikkelende spelers (tot 21 jaar): o. 21- en o. 20-kompetisies, maar wel beskikbaar as plaasvervangers vir pro’s en semi-pro’s.

4. Klubspelers kan gekontrakteer word as tydelike plaasvervangers vir beseerde pro’s of semi-pro’s.

Die stipulasies in die ooreenkoms vir die sny van salarisse en spelersgroepe is:

1. Superrugby-, Pro14- en Curriebeker-Premierliga-spanne mag nie meer as 45 spelers kontrakteer nie. Hulle mag nie meer as R60 miljoen op salarisse uitgee nie. Die Pumas en Griekwas (Curriebeker-Premierliga-spanne) mag nie meer as R15 miljoen spandeer nie.

2. Spanne in die Curriebeker se Eerste Liga mag nie meer as 23 pro’s kontrakteer nie. Hulle mag nie meer as 40 spelers (insluitend semi-pro’s) kontrakteer nie. Salarisse mag nie R6 miljoen oorskry nie.

3. Unies kan wel ’n groot aantal ontwikkelende spelers kontrakteer vir Superrugby en die Pro14, solank dit nie die salary cap van R10 miljoen oorskry nie. In die jaar daarna is die cap R7,5 miljoen.

Die salaris-limiet vir kleiner unies se kontraktering van ontwikkelende spelers is R1 miljoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters