8 dae gelede
SA se Anderson vereer
shot! Kevin Anderson kry ’n pluimpie van die media. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

SUID-AFRIKA se Kevin Anderson is deur die Internasionale Tennisskrywersvereniging (ITSV) met die toekenning as Ambassadeur van die Jaar vereer.

Hy is saam met Simona Halep as 2018 se wenners aangewys.

Volgens die vereniging se webtuiste word een man en vrou jaarliks aangewys deur sy lede (wat sowat 120 skrywers beloop).

“Die toekenning erken ’n kombinasie van suksesse op die tennisbaan en ook verhoudings en samewerking met die media,” sê die ITSV.

Anderson het die eindstryd van Wimbledon gehaal (waar hy teen Novak Djokovic vasgeval het) en het 2018 met ’n vyfde plek op die wêreldranglys afgesluit.

Hy het ook die ATP 500-titel in Wenen verower.

  • Intussen het Suid-Afrika se Lloyd Harris ook vir die mans­enkelspel van die Australiese Ope gekwa­lifiseer.

Die 21-jarige Harris is van Kaapstad en het die veteraan Dustin Brown met 6-1, 7-6 (12/10) in die finale kwalifiserende ronde geklop.

Die Aussie-Ope sal Harris se tweede verskyning in ’n Grand Slam wees. Hy was ook verlede jaar tydens die Amerikaanse Ope in aksie.

Harris is tans 119de in die wêreld en kom in die eerste ronde teen die Rus Daniil Medvedev te staan.

Anderson se eerste teenstander is die Fransman Adrian Manna­rino.

Die 32-jarige Anderson het al in twee Gland Slam-eindstryde gespeel. Die ander een is die Amerikaanse Ope in 2017.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters