7 dae gelede
Rowan bly champ
EINA! Rowan Campbell se oogbank is oopgekloof nadat Yanga Phetani hom per ongeluk met die kop gestamp het.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

ROWAN Campbell het toe sy IBO All-Africa supermiddelgewigbokstitel suksesvol verdedig.

Dit volg deurdat hy Yanga Phetani van Oos-Londen Vrydagaand by Emperors Palace aan die Oos-Rand met punte geklop het.

Dit was die eerste keer dat Campbell sy titel verdedig het nadat hy die vakante titel op 24 Februarie teen Alex Kabangu met punte gewen het.

Die 39-jarige Phetani van Mdantsane het in die tweede ronde gevaarlik gelyk, maar Campbell het sterk teruggeveg om beheer van die geveg te neem.

Laat in die geveg het Phetani sy oogbank per ongeluk met sy kop oopgestamp, maar dit het Campbell nie van stryk gebring nie.

Trouens, dit het hom net méér vasbeslote gemaak om vas te byt.

In die laaste drie rondes het Phetani met nuwe oorgawe geboks toe hy en Campbell mekaar tot groot vermaak van die toeskouers met alle mag ge­moker het.

Aan die einde van die tiende en laaste ronde het Campbell op ál drie beoordelaars se telkaarte met punte gewen.

In die junior middelgewigafdeling het die jong op­komende ster Roarke Knapp sy sewende uitklophou in ag gevegte geplant toe hy Wynand Mulder met sy kragtige lyfhoue tot oorgawe gedwing het.

Dit was Mulder se agste nederlaag in 18 kragmetings. Sy nederlae was almal uitklophoue.

Onoorwonne

Dit is duidelik dat die promotor Rodney Berman ’n juweel in Knapp het. Hy is beslis iemand om vorentoe dop te hou.

In die super-weltergewigafdeling was daar maar bittermin te kies tussen Boyd Allen en Brandon Thysse.

Allen het net-net gewen en sodoende onoorwonne gebly ná vier gevegte.

Thysse was egter ongelukkig om te verloor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters