15 dae gelede
Ronaldo soek nommer 6
Cristiano RonaldoFoto’s: getty images  ~ 

DIE Portugese ster Cristiano Ronaldo verdien om die Ballon d’Or-toekenning wéér te wen.

So meen sy Juventus-spanmaat en middelveldspeler Blaise­ Matuidi.

Hy glo Ronaldo (33) moet die wenner van sy sesde Ballon d’Or-toekenning wees.

Ronaldo is ’n aanspraakmaker daarop om dié individuele eer vir ’n allesoortreffende sesde keer te wen nadat hy Real Madrid vroeër vanjaar na ’n derde agtereenvolgende Champions League-titel gelei het.

Die superster het die skuif na Juventus in Julie gemaak.

Sy spanmaat Matuidi gee sy steun aan Ronaldo­ om die Ballon d’Or môre te wen.

“Cristiano Ronaldo verdien om dit te wen,” het hy aan Sky Sport Italia gesê.

“Hy wil altyd wen en dit maak hierdie seisoen ’n groot verskil in ons span.”

Met Ronaldo wat die aanval lei, het Juve ’n sterk aanvang tot die seisoen beleef.

Hy is met agt punte bo-aan die Serie A-liga se log en het reeds vir die uitklopronde van die Champions League gekwalifiseer.

Om sy aanspraak op die Ballon d’Or nóg sterker te maak, het Ronaldo onlangs nóg ’n rekord gebreek toe hy die eerste speler geword het wat 100 Champions League-oorwinnings behaal het. – Goal.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters