17 dae gelede
Roller coaster bring sukses
lekker! ’n Jong groep Blitsbokke het in Singapoer vir die tweede keer in die seisoen gevoel hoe dit is om op die wennerspodium te staan. Foto’s: getty images  ~ 

’N ROLLER COASTER van ’n seisoen.

Dis hoe Neil Powell, die afrigter van die Springboksewes-rugbyspan, sy span se pas voltooide seisoen in die Wêreldreeks beskryf het.

Suid-Afrika, oftewel die Blitsbokke, het die vierde plek verseker. Fidji is egter as kampioen gekroon.

Volgens Powell is die Blitsbokke se doelwitte vir die seisoen bereik, al moes hulle ná twee seisoene van oorheersing hulle Wêreldtitel daarvoor prysgee.

“Ons het aan die begin van die seisoen vir ons doelwitte gestel. Dit was om die topvier van die reeks te haal en sodoende te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele. Ons het dit wel reggekry,” het hy gesê.

“Dit het partykeer baie goed met ons gegaan, en ander tye baie sleg. So, dit was werklikwaar ’n roller-coaster ride vir ons.

“Ek is egter dankbaar daarvoor dat ons twee toernooie kon wen. Dit het net weer getoon dat ons die talent en die spelers in ons sisteem het om suksesvol te wees.”

Assistent

Volgens Powell moet daar nou net baie hard aan die span se bestendigheid gewerk word om weer die hoogte van die vorige seisoene te bereik waar die manne elke keer die halfeindronde van ’n toernooi gehaal het.

Powell en sy assistent en voormalige Blitsbokspanmaat, Renfred Dazel, was van die begin van die pas afgelope seisoen met die rug teen die muur, aangesien talle staatmakers soos Seabelo Senatla, Kwagga Smith, Ruhan Nel, Rosko Specman en Dylan Sage besluit het om hulle eerder op die vyftienman kode toe te spits.

Powell-hulle het egter nie gehuiwer om groentjies soos Kurt-Lee Arendse, Angelo Davids, Sako Makata en JC Pretorius aan die diep kant in te gooi nie.

Met die ervare Philip Snyman, Justin Geduld, Werner Kok, Shakes­ Soyizwapi en Branco du Preez kon hy darem deurentyd ’n goeie mengsel van jeug en ervaring handhaaf.

Daarby het spelers soos Selvyn Davids, Ryan Oosthuizen, Zain Davids, Muller du Plessis en Stedman Gans nou meer ervaring en verskeie toernooie onder die belt.

Dan kan daar verstaan word hoekom die SA Sewesrugby­akademie se stelsel uit verskeie oorde geprys word.

Skakel

Veral in die lig daarvan dat die spelers wat uit die akademie opgeroep word, reeds vertroud is met die kultuur en wedstrydplan van die Blitsbokke.

Hulle skakel ook baie goed in wanneer hulle opgeroep word.

Daarvoor verdien Marius Schoeman, die akademie se bestuurder, asook Powell, Dazel en almal betrokke by die span se hoofkwartier in Stellenbosch net die hoogste lof en prys.

Die Blitsbokke is beslis die mees geliefde nasionale sportspan in Suid-Afrika, want hulle is gereeld op die wennerspodium.

Hulle speel vir mekaar, asook vir die trui.

Die stelsel word goed bestuur en deur almal toegepas wat by die span betrokke is.

Powell het nou natuurlik ’n goue medalje volgende jaar by die Spele in sy visier.

In 2016 het die Blitsbokke as gunstelinge in Rio opgedaag, maar hulle kon slegs ’n teleurstellende bronsmedalje verower.

Destyds het spelers soos Bryan Habana, Juan de Jongh en Francois Hougaard – wat almal hulle naam in die vyftienman-kode gemaak het – in die aanloop tot die Spele deel van die stelsel geword.

“Ons gaan dié slag fokus op manne wat al deel is of was van ons sisteem. Ons sal dalk na een of hoogstens twee spelers kyk as ons hulle wil gebruik, maar ons gaan nie veel fokus op manne vanuit die vyftienman-opset nie.”

Powell verwys natuurlik hier na manne soos die Lions­ se Hacjivah Dayimani en die Sharks se Aphelele Fassi, wat tans Superrugby speel, maar wat dalk opgeroep kan word.

Powell sê dat hy reeds met van die spelers gepraat het wat verlede jaar vir hom diens gedoen het en wat nou vyftiens speel. Dis manne soos Smith, Senatla en Specman.

“Ons het die beplanning deurgegee, maar ons sal dit maar op ’n case-by-case basis hanteer. Dié tipe spelers sal ons al van die Hongkong-been van die reeks beskikbaar wil hê as hulle in ons Olimpiese Spele-planne is,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters