9 dae gelede
Roland soek weer olimpiese sukses
Gereed? Roland Schoeman wil weer Olimpiese goud wen.  ~ Gallo Images

DIE voormalige wêreldrekordhouer en Olimpiese goue medalje-wenner Roland Schoeman sê hy wil steeds deelneem aan vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio, al is hy tans geskors.

Dit volg nadat die Internasionale Swemfederasie (Fina) laas jaar aangekondig het hy het ’n skorsing van een jaar op Schoeman toegepas.

Die swem-ster (39) noem in ’n ver­klaring hy is geskors nadat ’n buite-kompetisie-urinemonster op 18 Mei 2019 positief getoets het vir twee metaboliete GW50516 (Carda­rine), wat ’n hormoon en metaboliese reguleerder is. Die skorsing eindig op 17 Mei.

Schoeman sê hy wil graag alles met die publiek deel omdat hy voel daar moet meer aandag op die situasie geplaas word – vir atlete – en omdat hy steeds verantwoordelik voel as rolmodel vir jonger swemmers.

“As atlete is ons liggaam vir ons baie belangrik, want dit is waarmee ons werk. En soos die norm is, gebruik ons almal ’n verskeidenheid supplements om die liggaam in die bes moontlike toestand te hou,” lees Schoeman se verklaring.

Hy noem verder dat hy laas jaar in Mei ’n verskeidenheid aanvullings geneem het wat almal noukeurig uitgesoek is, juis om enige moontlikheid van verbode middels te vermy.

“Ek was glad nie bekommerd om my urinemonsters te verskaf nie, want ek het voor dit baie monsters verskaf, soos ek al tientalle kere vantevore gedoen en negatief getoets het, beide binne en buite die kompetisie.”

Volgens Schoeman het hy negatief getoets vir verbode middels in twee toetse voor Mei laas jaar en vir twee toetse onmiddellik nadat daar wel ’n verbode middel gevind is.

Kruiskontaminasie

“Ongelukkig teen die tyd dat Fina my van die positiewe toets in kennis gestel het, was daar nie meer van my maandelikse supplements oor nie. Ek sou nooit bewustelik ’n ver­bode middel geneem het nie, en nog minder iets wat bekend is dat hy kanker dra en ’n hartaanval en ’n beroerte kan veroorsaak nie.”

Volgens Schoeman pas Fina gewoonlik ’n skorsing van twee tot vier jaar toe. Daar was egter ’n moontlikheid dat dit onbedoelde kruiskontaminasie behels. Dus het Schoeman net ’n skorsing van een jaar ontvang.

“Die konsentrasie van Cardarine wat in my urine gevind is, is net 1,3 nanogram.

“Volgens laboratoriumtegnici en kundiges dui dit daarop dat dit weens produkbesoedeling kon gebeur het.

“Die opsporingstydperk vir een dosis Cardarine duur tot 40 dae. So, as ek dit opsetlik geneem het, sou ál vyf my vorige toetse positief gewees het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters