16 dae gelede
Respek vir die Blitse
HOU INNIE BOEP!Son op Sondag se Shafiek Mouton saam met Selvyn Davids (links) en Rosko Specman. Foto’s:Jonathan Lestrade  ~ 

OM ’N Blitsbok te wees, moet jy veel meer as spoed, flair, krag, stamina­ en dreadlocks hê.

Dit het die uwe self ’n paar dae gelede uitgevind.

En omdat ek nie een van bogenoemde vaardighede het nie, is my droom om die SA Sewesspan te verteenwoordig, nou aan skerwe­.

Ek was gelukkig om Donderdag saam ander lede van die media ’n kykie te kry na wat dit regtig verg om ’n Blitsbok te wees.

SA Rugby het dit #WitnessTheFitness gedoop.

Die Blitsbokke is waarskynlik die mees geliefde nasionale span in die land. Dis duidelik dat Marius Schoeman (die SA Sewes se high performance manager), Neil Powell (hoofafrigter) en kie ’n resep het wat ons ander spanne moet (en dalk kan) navolg.

Ons moes 07:30 by die Blitse se hoofkwartier in Stellenbosch aanmeld. Die eerste man met wie ek kennis gemaak het, was Nathan – ’n paramedic wat na ons welstand vir die dag moes omsien. Gevaarligte!

Ons is elkeen ’n oefentrui (met die woorde “Witness the fitness” en broekie gegee met die Blitsbokke se regte (egte) wapen op, geborg deur Asics – die Blitse en Springbokke se kit sponsor.

Dis waar die fun geëindig het! Ons is onder die wakende oog van Sandile “Stix” Ngcobo, voormalige Blitsbok, en nou lid van hulle afrigterskorps, aangesê om reg te maak vir “pre-hab” – ’n fancy naam vir opwarm (!) in een van die Blitse se gyms.

Daar moes ons met daai rekbande waarmee die fitness fanatics so op Instagram brag, die spiere opwarm, ’n pap rugbybal met die knieë squeeze terwyl jy op jou rug lê – en ander opwarmingsgoed wat my al daai tyd na my asem laat snak het.

Dit is gevolg deur ’n tik-toets. Nee, nie dáái tik nie! Op ’n laptop!

Die ervare Brenden Nel van Rapport het ’n allemintige 53 woorde per minuut getik en met die louere weggestap. Die louere was ’n Blitsbok-speeltrui! Hoekom tik ek nie vinniger nie?!

Dit is gevolg deur brekfis. Die rugbyspelers kan eet, jong. Eiers, spek, worsies, you name it!

Ek dink hier het ek glad nie te sleg gevaar nie en baie op my gemak gevoel.

Ek kan egter nie dieselfde sê vir die volgende aktiwiteit nie.

Ek en die binnekant van ’n gym kan nooit vir lang tye vriende bly nie. Dis so ’n paar weke hier en dan ná ’n paar maande se afwesigheid ’n halfhartige comeback (gewoonlik weer vir ’n paar weke).

Hiervan is my boep in my nuwe Blitsbok-hempie mos hard­core evidence.

Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Rosko Specman, Kurt-Lee Arendse en die ander manne het egter die ysters laat raas en ek was daar to #WitnessTheFitness.

Totdat dit óns beurt was.

Spronge, lifts en ysters vir ’n allemintige 45 minute. En moenie probeer lyf wegsteek nie.

Nee, coach Stix het oë agter sy kop, ek sweer!

Net toe ek dink dis alles oor, word ons in kennis gestel van die dreaded bliep-toets. Ek raak sommer weer moeg terwyl ek hier tik!

Ek het nie baie goed hierin gevaar nie, maar die SuperSport-kommentator Anton Taylor het die beste van die media gevaar – of altans, so dink ek. Sien, ek het lank op my rug gelê en wonder waar my hulp vandaan sou kom.

Nel was een van die Blitse wat goed gevaar het, maar die kaptein, Siviwe “Shakes” Soyiswapi, het stof in ál sy spanmaats se oë geskop. Leading from the front!

Lunch was lekker groot steaks met groente, broodjies en slaaie om van te kies en keur.

Daarna het ons veld gevat en lekker bal rondgegooi en geskop voordat Philip Snyman ons vir regte passing drills gevat het. In dié afdeling het ek nie te sleg gevaar nie, al kon ek toe nie meer my bene voel nie.

Ceremony

Percivale Young, voormalige Son-sportverslaggewer en deesdae te sien as aanbieder op eNuus, was baie geesdriftig en groot sports die hele dag.

’n Capping ceremony het daarna plaasgevind wat ook die laaste aksie vir die dag was.

Ek is happy om te report Powell dink ek is nie te versmaai nie en dat ek darem ’n “slaag” op my rapport gekry het. “Excellent potential, try again next year,” lees coach Neil se kommentaar.

Ek stem dalk saam met die eerste gedeelte, maar weet nie of my seer lyf weer hierdeur wil gaan nie. Miskien sal ek net weer kom to #WitnessTheFitness. 

HOU INNIE BOEP!Son op Sondag se Shafiek Mouton saam met Selvyn Davids (links) en Rosko Specman. Foto’s:Jonathan Lestrade
Bliep-toets
Passing drill
Lafenis:
HIE KOMMIE BAL! My aangee-vaardighede is darem nie te versmaai nie. Vang hom!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters