3 maande gelede
Rafa soek sy dosyn op klei
Rafael Nadal
Rafael Nadal (AP)  ~ 

MET ’n ongelooflike 11 titels is hy by verre die mees suksesvolle speler op die stadige kleibane van Roland Garros.

Maar Rafael Nadal van Spanje wil doodseker maak hy bou ’n dynasty en legende wat nog vir vele dekades gaan staan.

Dis wanneer die 33-jarige vandag op Court Philippe-Chatrier uitstap om in sy 12de eindstryd te speel.

Daar was al verskeie uitdagers om sy kroon, maar almal van hulle het op die ou end die knie voor die maestro, nee, koning van kleibaan-tennis gebuig.

Afgereken

’n Mens moet ook net wonder hoeveel krag en fight Nadal se teenstander in vandag se eindstryd gaan oorhê.

Novak Djokovic en Dominic Thiem se halfeindstryd is gister in die derde stel voortgesit nadat reën hulle kragmeting Vrydag kortgeknip het.

Albei spelers het al op vorige kere in kleiner kleibaantoernooie met Nadal afgereken, maar op Roland Garros is daar net een baas.

Met elke wedstryd waarin Rafa tot dusver gespeel het, was daar verskeie verbeterings wat hy tot sy spel gemaak het.

In die eerste week was daar kommer oor sy first serve, wat hy net-net bo die 50% tot 60% kon inkry.

In Vrydag se semi teen Roger Fe­derer het Rafa egter 81% van sy first serves ingekry.

Ná ’n klein hiccup in die derde ronde het die Spanjaard ook nie weer ’n stel verloor nie.

Daar is Vrydag verwag Federer sou darem ’n stel of twee van Rafa kon afrokkel, maar nie eens die Switserse maestro kon hom onder druk plaas nie.

“Om jou serve teen die wind te wen terwyl Rafa die bal met soveel kwaliteit terugslaan, is net baie moeilik,” het Federer probeer verduidelik.

“Wanneer jy met hom in ’n rally betrokke is, speel hy houe met goeie top spin van die voorhand af en met goeie beheer met sy rughand. Dis net baie moeilik om gapings te vind.

“Die manier waarop hy die baan verdedig, maak jou ongemaklik. Daar is niemand wat naastenby soos hy op klei kan speel nie.

“Ek weet nie eens waar ek ’n oefenmaat gaan kry wat naastenby soos hy op klei speel nie,” het Federer die asemrowende klas van Nadal se kleibaanspel geloof.

Sukses in vandag se eindstryd sal Nadal ook een titel nader aan Federer se Grand Slam-rekord van 20 bring.

Die Spanjaard spog tans met 17 titels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters