4 maande gelede
Proteas wys hulle kan
tevrede: Faf du Plessis en Hashim Amla.Foto: REUTERS  ~ 

DIE Proteas het uiteindelik die nagevolge van hulle nederlaag teen Bangladesj afgeskud.

Faf du Plessis het ná Vrydag se oorwinning met nege paaltjies oor Sri Lanka in Durham erken die nederlaag teen Bangladesj het skokgolwe deur die Proteas se kamp gestuur.

Suid-Afrika se kaptein het gesê dié nederlaag in die tweede wedstryd het die “wind uit ons seile geneem” en die Proteas se Wêreldbeker-veldtog ontspoor.

Dié sege oor Sri Lanka is slegs die Proteas se tweede by die toernooi in Engeland. Net een wedstryd, Saterdag in Manchester teen Australië, bly vir Faf-hulle oor.

’n Voormalige kaptein van Sri Lanka, Kumar Sangakkara, het gesê as die Proteas in die ander wedstryde gespeel het soos teen Sri Lanka, was hulle nog in die bekerwedloop.

“Suid-Afrika het gewys wat hy kan doen wanneer hy op sy beste is.

Uitgeboul

“Die Proteas het alles goed gedoen. Dit was ’n kliniese ver­toning,” het dié legende gesê.

Sri Lanka is danksy ’n gedissiplineerde boulvertoning deur die Proteas vir net 203 lopies uitgeboul.

Suid-Afrika het die wenteiken bereik met ’n volle 76 balle nog oor, met Du Plessis (96*) en Ha­shim Amla (80*) onoorwonne.

Met die bal was Dwaine Preto­rius in slegs sy tweede bekerwedstryd met 3/25 op ’n stadige blad behoorlik op sy stukke.

Daar was vir die Proteas niks op die spel in die wedstryd behalwe verlore aansien nie, maar Du Plessis is nogtans hoogs in sy skik met die sege.

“Ons het gespeel soos ons kan. Dit is ’n bittersoet gevoel, want ons weet ons is reeds uit die bekerwedloop,” het hy gesê.

“Met die kolfwerk het ons die basiese dinge reg gedoen, maar bestendigheid het in die toernooi ontbreek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters