8 dae gelede
Proteas veg vir draw in Visakhapatnam
het hom! Ke­shav Maharaj (links) en Dean Elgar baljaar nadat Maharaj ’n paaltjie ingeoes het. Foto: gallo images  ~ 

DEAN Elgar kon sy heldedaad van die eerste beurt gister nie herhaal nie.

Dié Protea-ster het in die eerste beurt met ’n hardegat kolfhouding Indië se boulers laat les opsê op pad ná sy skitterbeurt van 160.

Maar gister het hy hom tromp-op vasgeloop teen die draaiwerk van Ravindra Jadeja, wat hom in die vierde boulbeurt van die Proteas se tweede beurt vir net 2 lopies been voor paaltjie betrap het.

Daar wag dus vandag ’n enorme taak op die Suid-Afrikaanse kolwers om die eerste van drie toetse in die reeks – dié een in Visakha­patnam – te red.

Die Suid-Afrikaners, met nog nege paaltjies staande, moet nog ’n allemintige 384 lopies op die laaste dag van die toets aanteken om dié taai stryd te kan wen.

Spel is gister met vier boulbeurte oor vroeg stopgesit weens swak lig.

Die twee kolwers wat vanoggend die Proteas se kolfbeurt voortsit, is Aiden Markram (3) en Theunis de Bruyn (5). SA staan op 11/1.

Suid-Afrika het gister op dag 4 op sy oornagtelling van 385/8 voortgebou en is vir 431 uitgeboul.

Bydrae

Dit was ’n agterstand van 71 lopies op Indië se eerstebeurt-telling van 502/7.

Die debutant-draaier Senuran Muthusamy het met sy bydrae van 33, nie uit nie, ook sy kant gebring. Hy het saam met Kagiso Rabada (15) die span oor die 400 lopie-merk gehelp.

Die Indiese draaier Ravichan­dran Ashwin het ’n uiters indrukwekkende 7/145 platgetrek.

Ondanks die SA draaier Keshav Maharaj se vroeë sukses gister kon hy nie die Indiese kolwers verder stuit nie.

Die tuisspan het sy tweede beurt op ’n stewige 323/4 verklaar.

Elgar en die paaltjiewagter Quinton de Kock het egter in die eerste beurt gewys dat met goeie aanvallende kolfwerk die tuisspan se boulers gefnuik kan word.

Dit was veral Elgar wat sy gesag met ’n hardegat houding op die tuisspan se boulers afgedwing het.

Elgar se skitterende beurt het die Proteas van ’n potensiële katastrofe gered.

Suid-Afrika het danksy De Kock se bydrae van 111 die derde dag relatief goed afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters