18 dae gelede
Proteas: Nóg slegte nuus
GEMONITOR: Rassie van der Dussen hoor vandag of hy teen die Windies kan speel. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

ASOF drie nederlae en onthullings oor AB de Villiers nie reeds genoeg skade gedoen het nie, kan die Suid-Afrikaanse krieketspan dalk ’n staatmaker vir sy volgende World Cup-wedstryd verloor.

Die Proteas kom môre in South­ampton in Engeland teen die Wes-Indiese Eilande te staan.

Dis ’n wedstryd wat die kaptein, Faf du Plessis, en sy span eenvoudig moet wen.

Herstel

Dit sal hulle terug in die gesprek vir kwalifisering vir die halfeindronde bring. Nog ’n nederlaag kan daardie hoop verydel.

Daar is ’n goeie kans dat die naatbouler Lungi Ngidi die Windies sal kan pak.

Hy herstel glo vinniger as wat verwag is van ’n seer dyspier.

Die Proteas se voorste lopiemaker in die toernooi, Rassie van der Dussen, wek groot kommer.

Van der Dussen het glo ’n liesbesering opgedoen in Woensdag se nederlaag teen Indië.

Hy het tot vandag toe kans om sy fiksheid te bewys, anders sal Aiden Markram in sy plek gekies word.

Van der Dussen het tot dusver tellings van 50, 41 en 22 behaal. En hoewel dit nou nie ’n aardskuddende aantal lopies is nie, lyk Van der Dussen na een van die gemaklikste kolwers in die Protea-span.

Ironies genoeg is Van der Dussen een van die manne wat dalk op ’n World Cup-plek sou misloop as Krieket Suid-Afrika (KSA) besluit het om onverantwoordelik op te tree en die uitgetrede AB de Villiers te kies.

KSA en die Proteas word intussen uit verskeie oorde aangeval oor die De Villiers-onthullings in ’n berig op cricinfo.com.

Luidens die berig het die voormalige Protea-kaptein en ster-kolwer homself op die dag van die aankondiging van die Proteaspan vir die skouspel in Engeland en Wallis beskikbaar gestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters