17 dae gelede
Proteas mik na paradys
gevaarLIK: Kuldeep Yadav is een van Indië se puik draaiboulers. Foto: getty images  ~ 

SUID-AFRIKA se krieketspan bly kwesbaar teen goeie draaiboulwerk op stadige, droë blaaie.

Daarom is die bepalings wat hierdie week vir die Proteas se toer in Indië bekend gemaak is, nie die nuus wat die toetsspelers wou hoor nie.

Indië is volgens die wêreldranglys die beste toetsspan op die planeet.

Om dié manne in drie toetse in hulle agterplaas te gaan pak, is seker nie iets om na uit te sien nie.

Veral nie wanneer dit boonop in die Wêreldbeker-toernooi broekskeur gaan nie.

Dié uitdaging wag in September en Oktober op die Proteas.

Suid-Afrika is nie die beste ont­leder van speeltoestande nie.

Die drie toetse word ook op velde gespeel wat die Proteas glad nie ken nie – ’n faktor wat verder tot hulle onsekerheid bydra.

Die toetse word in Visakhapatnam, Ranchi en Pune gespeel.

Die blaaie daar sal na verwagting wel die draaiers help, en dít is iets waaroor die Proteas seker nou al bekommerd is.

Makliker

Dié toer spring weg met drie T20-wedstryde, waarna die toetsreeks begin. Dit sal die Proteas hopelik ’n bietjie help om hulle voete te vind.

Suid-Afrika keer ná sy plaaslike internasionale seisoen in Maart volgende jaar terug na Indië vir drie eendaagse wedstryde.

Plaaslik raak dinge ook nie juis vir die Proteas makliker nie.

Engeland en Australië gaan besoek kom aflê.

Engeland kom in Desember in Suid-Afrika aan vir ’n lang toer. Dit behels vier toetse, drie ODI’s en drie T20’s.

Australië kom nie toetse speel nie. Dié manne sal in drie ODI’s en drie T20’s in aksie wees.

As die Proteas hierna nog staande is, vertrek hulle dan weer na die draaiboulers se paradys vir daardie drie ODI’s.

Die bepalings in Indië is:

15 September: 1ste T20 in Dharamsala

18 September: 2de T20 in Mohali

22 September: 3de T20I in Bengaluru

2-6 Oktober: 1ste toets in Visakhapatnam

10-14 Oktober: 2de toets in Ranchi

19-23 Oktober: 3de toets in Pune

12 Maart: 1ste ODI in Dharamsala

15 Maart: 2de ODI in Lucknow

18 Maart: 3de ODI in Kolkata

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters