3 maande gelede
Proteas is net katvoet
kommer: Die Proteas se mediese span hou Kagiso Rabada se rugbesering baie fyn dop.Foto: EPA  ~ 

SUID-AFRIKA se krieketkamp is nie te bekommerd oor die beserings onder sy vinnige boulers nie.

Kagiso Rabada is die jongste ongeval, maar die Proteas hou vol dié ster is net as ’n voorsorgmaatreël uit Indië teruggeroep.

Die spanbestuurder, Mohammed Moosajee, het gesê dié stap is geneem omdat Rabada al voorheen met rug­beserings gesukkel het.

Rabada was skitterend op dreef in die Indiese Premierliga (IPL) voordat hy ’n styfheid in sy lae rug gevoel het.

“Gelukkig is ons fisioterapeut, Craig Govender, in Indië en hy het gevoel Rabada moet na Suid-Afrika terugkeer.

“Ons mediese span sal die beste stappe neem om seker te maak Rabada is volkome fiks vir die Wêreldbeker-toernooi,” het Moosajee verduidelik.

’n Spesialis sal Rabada monitor en hy sal met ’n herstelprogram begin.

Rabada is erg teleurgesteld dat hy die IPL moes verlaat.

“Ek het dit vreeslik by die Delhi Capitals geniet – op en van die veld af,” het hy gesê.

“Met die World Cup wat nader kom, het ek egter saam met die Proteas se mediese span besluit om terug te keer.”

Dié terugslag met Rabada volg kort nadat nóg ’n naatbouler van die Proteas, Dale Steyn, ook van die IPL teruggekeer het. Steyn het las van ’n skouerbesering.

Twee ander naatboulers in die Proteas se groep, Lungi Ngidi (syspier) en Anrich Nortjé (skouer), het onlangs eers weer begin boul nadat hulle met ’n herstelprogram besig was.

Vertrek

Boonop word die draaier Tabraiz Shamsi se dyspierbesering nog gemonitor en was hy lanklaas in aksie.

Dit lyk darem asof JP Duminy nie meer las van sy skouer het nie.

Die Proteas begin volgende Sondag met ’n oefenkamp en vertrek op 19 Mei na Engeland.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters