14 dae gelede
Promotor lóóp IBF oor Álvarez se titel
Canelo Álvarez Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE Internasionale Boksfede­rasie se besluit om die middel­gewigkampioen, Canelo Álvarez, se titel weg te vat, het skokgolwe deur die wêreld gestuur.

Hierdie drastiese stap is gedoen nadat die Mexikaan en Sergiy Derevyanchenko van Oekraïne nie hulle afspraak in Oktober kon nakom nie.

Álvarez se promotor, Oscar De la Hoya, spoeg vuur.

Hy’t kaalvuis onder die wêreldliggaam ingeklim en gesê die stap is belaglik.

“Die IBO se besluit is ’n belediging vir Álvarez en ’n belediging vir die boks-fans van die wêreld.

“Om die gordel van die beste bokser in die wêreld weg te neem net omdat onderhandelinge deur die mat geval het, is ’n skreiende skande.

“Ons het die Derevyanchenko-kamp die beurs aangebied wat hy werd is.

“Hy is nie ’n groot naam in wêreldboks nie en ook nêrens gewild nie. Dit is dus duidelik dat hy nooit van plan was om die geveg te aanvaar nie.

Berig

“Derevyanchenko se kamp was duidelik daarop uit om te sorg dat Álvarez sy titel kwyt is,” het ’n woedende De la Hoya aan Fox News gesê.

Daar word nou berig Derevyanchenko onderhandel met Gennady Golovkin om vir die vakante titel te boks.

Álvarez is steeds die WBA- en WBC-kampioen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters