3 maande gelede
Prins sien uit na Varsity-seisoen
AKSIE! Jo Prins wen balbesit vir die Southern Stings in die Brutal Fruit Premierliga. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Varsity-netbal-toernooi van 2019 begin môre.

Met die onlangse puik vertoning van ons Proteas by die Wêreldbekertoernooi gaan dié event baie belangstelling lok.

Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) is tans die kampioen.

Die Bloemfonteiners is weer die gunsteling om deur te dring na die eindstryd op 7 Oktober.

Ná die World Cup in Liverpool het die Proteas die vierde plek op die wêreldranglys ingeneem.

Volgens die Maties se ster-speler Jo Prins het die nasionale span se sukses ’n goeie ding vir die sportsoort in die land gedoen.

Sy sê: “Mense wat nooit ’n netbalwedstryd gekyk het nie, het die Proteas regdeur gevolg. Tydens en ná die toernooi het baie van die mense na my gekom en gesê: ‘Dis nogal ’n lekker sport.’ ”

Dié boorling van Bredasdorp wat sedert kindsbeen netbal speel, was nie in 2017 en 2018 lid van die Maties se Varsity-netbalgroep nie. Prins het in 2017 ’n break van haar studie gevat en in 2018 teruggekeer, maar kon nie speel nie weens Varsity Sports se 60-krediete-reël.

Sy is ’n regular in die Southern Stings, die Wes-Kaapse provin­siale netbalspan.

Aspirasies

Prins se: “Ek geniet dit regtig om in die Varsity-netbaltoernooi te speel. Dis ’n uitstekende platform vir jong spelers.

“Ons (Maties) kom al lank saam. Dit maak dit so lekker om saam met vriende te speel.”

Sy is vanjaar by die Proteas se groep ingesluit. Dit het haar weer nasionale aspirasies gegee.

Sy mik nou na 2023, wanneer die Wêreldbeker-toernooi in Kaapstad aangebied word.

Haar insluiting in die groep het dié droom nuwe lewe gegee.

“Dit was nie deel van my planne nie. Ek was baie gelukkig om vir die Stings en Maties te speel en my toe te wy aan die groei van die spel op daai vlak.

“Maar nou met my deelname in die groter groep het dit weer daai droom na vore gebring.”

Hierdie onderwysstudent, wat tans by Idas Vallei Primêr haar praktiese ondervinding opdoen, is vol hoop vir die opwaartse kurwe wat netbal ervaar.

“Dis baie goed vir die sport wanneer mense wat nooit ’n match kyk nie, vir jou sê die sport is actually lekker om te kyk en te volg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters