19 dae gelede
Plaatjies vol passie
Dis tyd: Plaatjies in aksie in die PSL.  ~ 

DIS nie speletjies om ’n moderne skeidsregter te wees nie. Dit gaan oor integriteit, passie en toewyding.

Dit is die gevoel van Cheslin Plaatjies, een die Northerns se eie refs wat tans op die nasionale komitee van skeidsregters dien.

Plaatjies (33) van Sanctor in die Northern Areas dien nou vir ’n tweede jaar in dié komitee.

Hy het onlangs, toe Chippa United in die Nelson Mandelabaai Stadion teen Polokwane City gespeel het, sy derde stryd in die Premierliga (PSL) as die vierde ref behartig.

Plaatjies verduidelik hy het wel al geref in baie wedstryde van die Nasionale Eerste Liga (NFD), maar hy wag nou vir sy kans om as die belangrikste man op die veld in ’n PSL-wedstryd uit te draf.

“Dit kan enige tyd gebeur. Jy het die komitee van assessors wat jou dophou. Afhangende van jou vertonings sal hulle jou kies om ’n wedstryd te ref,” sê hy.

“Ek het in my loopbaan vir die Northern Areas Football Association (Nafa) se klubs West Lake, Ebenezer en Stardrift gespeel, maar toe ek 25 was, het ek reeds besluit om dit op te gee.”

Kort daarna het Plaatjies se passie vir sokker hom egter weer nader geroep.

Hy vertel hy was by ’n klubwedstryd waar hy net gestaan en kyk het, toe hy die fluitjie heel per ongeluk opgetel het.

“Dit was ’n reserwe-wedstryd en daar was nie skeidsregters beskikbaar nie. En toe het ek besluit om uit te help.

“Nadat ek dit vir ’n tweede keer gedoen het, het Nafa my genader en gevra of ek nie by hulle wil aansluit nie.”

Vandaar het Plaatjies se loopbaan vinnig begin spoed optel. Nadat hy hom in 2011 by Nafa aangesluit het, het hy in 2012 die plaaslike Engen-toernooi geref en toe die volgende jaar na Tweede Liga-wedstryde aangeskuif.

In 2014 het hy in die Multichoice Diski-reeks begin ref.

Daarna is hy genooi om die nasionale komitee te join.

“Ons is omtrent so 80 refs en enige ref kan amper na enige wedstryd gestuur word vir NFD- of PSL-wedstryde.”

Plaatjies sê dit was glad nie maklik om in die nasionale komitee te kom nie en dit verg baie harde werk.

“Daarom het almal mentors wat jou kan help. In my geval was daar vier belangrike mense vir my ontwikkeling – Geronimo Piedt, Jacob Frolick, Deirdre Zea­land en Robert Smith.”

Hy sê fiksheid is nét so belangrik vir moderne refs.

“Die game het verander en is baie vinniger. Die dae dat refs net opgedaag het vir ’n game om betaal te word, is lank verby.

“Ek self probeer drie keer per week oefen sodat ek kan bybly met die spel.”

Verstaan

Behalwe dít, moet die refs natuurlik gereeld travel. En al sê Plaatjies dit is lekker, is dit ook moeilik.

“Ek moet sê my vrou ondersteun my baie, want daar is baie naweke wat ek moet opoffer.

“Selfs my baas by die werk verstaan dat ek soms vroeg moet loop. Dié dinge help dat ek my beste kan gee op die veld.”

As ref sê Plaatjies hy ondersteun nie ’n span nie, maar daar is een span in sy hart.

“Dit is Manchester United. Ek het grootgeword met hulle as die beste span. Toe hulle die treble en die Cham­pions League gewen het, is alles goeie memories vir my en daarom is dit die enigste span wat ek ondersteun.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters