9 dae gelede
Pienk eendag-sege Wink vir proteas
Pretty in pink: Quinton de Kock, die kaptein.  ~ Gallo Images

’N SEGE in vandag se tradisionele Pienk Dag ODI op die Wanderers kan aan die Proteas ’n reeks­oorwinning oor Engeland besorg.

Quinton de Kock (kaptein) se span loop met 1-0 voor in die reeks ná hulle skitterende oorwinning oor Eoin Morgan se Pommies op Nuweland Dinsdagaand.

Die tweede wedstryd is Vrydag afgelas ná net 11.2 boulbeurte toe die reën die laaste sê in Durban gehad het.

Durban se status as gasheer vir internasionale wedstryde moet opnuut onder die vergrootglas geplaas word, aangesien eendeweer en swak lig die spel deesdae gereeld vertraag of onmoontlik maak.

Reeza Hendricks kan egter heel tevrede voel met sy 35*. Hy sal daarop wil voortbou en vandag ’n noemenswaardige beurt op sy tuisveld wil aanteken.

Die Cape Cobras se Janneman Malan blaas in sy nek terwyl Jon-Jon Smuts ook ’n aanspraakmaker as openingskolwer is. Hy kolf egter in die reeks in die middelorde.

Die SA keurders kan besluit om Lungi Ngidi in Bjorn Fortuin se plek te laat speel omdat daar gewoonlik vir snelboulers meer spoed en wip op die Wanderers is.

Die Pienk Dag het ’n reputasie vir high-scoring games en die Bullring se kolfblad het eweneens dieselfde reputasie.

Die ringkoppe kan ook oorweeg om Ngidi én Fortuin in te span, terwyl Tabraiz Shamsi dan in die slag kan bly.

Hy was egter skitterend op Nuweland en gewrig-draaiers kan óf ’n aanvalswapen wees óf hulle kan vir lopies gaan.

Fortuin draai dalk nie die bal so baie nie, maar hy is akkurater en hy is ’n beter kolwer as Shamsi.

Die Proteas het ’n goeie rekord in Pienk ODI’s met AB de Villiers se ongelooflike 149 (44 b, 9x4, 16x6) wat nog baie lank onthou sal word.

Die Pienk Dag word gehou om geld vir slagoffers van borskanker in te samel. Feitlik alles in dié wedstryd word na pienk verander.

Die eerste Pienk Dag-wedstryd is reeds in 2013 gespeel.

Vanjaar het selfs Engeland ’n dash pienk in hulle kit.

’n Mak kolfblad, eweredige wip, dun lig en ’n kort grens is alles bestanddele wat voordelig is vir ’n lopiefees.

  • Intussen is die veteraan Dale Steyn in die Proteas se groep vir die T20-reeks ingesluit. Hy is laas jaar vir die World Cup gekies, maar moes terugkeer na SA omdat hy nie van ’n besering kon herstel nie.

Die snelbouler Sisanda Magala (Warriors) en die middelkolwer Pite van Biljon (Knights) is die nuwelinge in die groep.

Die eerste T20-stryd begin Woensdag in Oos-Londen, gevolg deur wedstryde in Durban (as dit nie reën nie) en Pretoria.

T20-groep: Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, David Miller, Pite van Biljon, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts, Beuran Hendricks, Tabraiz Shamsi, Lungi Ngidi, Sisanda Magala, Bjorn Fortuin, Dale Steyn, Heinrich Klaasen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters