19 dae gelede
Pharo, man van veelsydigheid
yster! Dwayne Pharo is ’n staatmaker op die rugbyveld. FOTO’s VERSKAF  ~ 

DIE talentvolle sportster Dwayne Pharo wil nog meer hoogtes bereik in sy sportloopbaan.

Die 15-jarige boorling van King William’s Town is tans ’n leerder by Kingswood College, waar hy in verskillende sportsoorte uitblink.

Hy speel hokkie vir die eerste span, o. 16A-rugby, eerstespan-krieket en is ’n uitstekende atleet.

Hy het onlangs die SA o. 17-atletiekspan gehaal en spog met ’n beste tyd van 10,57 sekondes in die 100 m. Hy behou ook 2018 se SA Champs-o. 15-rekord in die 200 m met ’n tyd van 21,97 sek.

Heelagter

Hy het laas jaar ook die SA Junior-rekord in die 100 m ver­beter toe hy maar net 14 was.

Pharo het ook sy provinsiale kleure vir OP o. 16-krieket, -rugby, -hokkie en -atletiek ontvang.

Die knaap hou van alle sport­kodes waarin hy uitblink en het geen gunsteling nie. Sy gunsteling-posisie by rugby is heelagter, terwyl hy ’n veelsydige krieketspeler is en ’n striker in hokkie. Sy beste kriekettelling is 144 nie uit nie én hy speel klubkrieket vir Willows.

Hy het reeds in 2017 sy 50ste drie vir KC se o. 14’s gedruk en is blitsvinnig met bal in hand.

Sy droom is om eendag ’n professionele atleet en ’n goeie mens in die lewe te wees. Sy goal is om elke dag sy droom uit te lewe en dit een stap op ’n slag te vat.

“Ek wil altyd die dinge doen wat my gelukkig maak. My pa en ma ondersteun my regdeur in ál my sportavonture. Hulle is my inspirasie,” sê Pharo.

Hy is danksy sy sporttalent raak­gesien en het só ’n sportbeurs by Kingswood bekom.

Die jong seun glo hy gaan nog groot hoogtes bereik en sy ouers baie trots maak.

Met sy huidige talent kan hy enige sport kies en sal hy steeds uitblink.

Met sy prestasies sover het hy reeds ’n reputasie opgebou as een van die land se beste skoolatlete.

Baie groot skole jag ook sy handtekening, maar hy is lojaal aan Kingswood, wat oor die jare baie goed vir hom was.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters