15 dae gelede
Pep glo Silva is nie ’n rassis
PEP GUARDIOLA Foto: GETTY IMAGES  ~ 

PEP Guardiola, afrigter van Manchester City, moes weer in die bres tree vir sy Portugese sterspeler Bernardo Silva.

Dit volg nadat Silva van rassisme beskuldig is oor sy twiet aan sy spanmaat Benjamin Mendy.

Die Engelse Sokkervereniging (FA) sê in ’n brief wat aan Manchester City gerig is, Silva het Mendy vergelyk met die swart karikatuur op die verpakking van Conguitos – ’n tipe lekker wat in Spanje en Portugal beskikbaar is.

Silva is behoorlik oor die kole gehaal en het sy twiet verwyder.

Guardiola het Silva daarna as ’n “uitsonderlike” persoon beskryf.

Spyt

“Dit was ’n eenvoudige grap. As iemand aanstoot neem, kan ek verstaan,” het Guardiola verduidelik.

“Bernardo het persoonlik aan die FA geskryf en sy spyt oor sy post in die sosiale media uitgespreek.

Mendy het Silva op sy beurt ook bygestaan deur te sê hy neem nie aanstoot weens Silva se aksies nie.

Guardiola het bygevoeg dit sal ’n “fout” wees om Silva te straf omdat alles maar net ’n “grap” was.

“Ek dink nie dit is regverdig dat mense hom kruisig nie.

“Hulle ken hom dan skaars,” verduidelik Guardiola.

“Bernardo is absoluut nié skuldig nie, want dit was nooit sy bedoeling nie. Dit was alles maar net ’n grap,” meen die City-breier. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters