13 dae gelede
Paarl Rocks staan goeie kans
DANKIE, MY BRA: Faf du Plessis en AB de Villiers skud Vrydagaand blad.  ~ Gallo Images

FAF du Plessis se Paarl Rocks het hulle rieme Vrydagaand teen die Tshwane Spartans styfgeloop.

Die Paarliete het egter vandag ’n goeie kans om hulle aanspraak op ’n plek in die halfeindstryd van die MSL te versterk.

Die Rocks kom vanoggend op die Wanderers in Johannesburg teen die beleerde Jozi Stars te staan.

Al het die Stars talle sterre in hulle geledere het die Gautengers nog nie ’n enkele wedstryd in ses probeerslae gewen nie.

Manne soos Chris Gayle, Kagiso Rabada, Temba Bavuma, Reeza Hendricks en Rassie van der Dussen kon nie op alle silinders vuur nie. Dis half onverklaarbaar hoekom soveel talent nie kon presteer nie.

Die Rocks kan hulle dus gereed maak vir ’n reuse-aanslag van die Stars, wat hulle naam in ere wil herstel.

Hulle drie top-kolwers, Henry Davids, Cameron Delport en Faf du Plessis, sal hulle 20’s en 30’s in groot tellings wil verander om die Rocks ’n kans te gee om ’n groot spantotaal aan te teken.

Dit sal manne soos James Vince, Mangaliso Mosehle en Isuru Udana in staat stel om in die laaste paar beurte met vrye teuels te kolf.

Die Rocks kon Vrydag in Centurion net 127 aanteken. Teen manne van die kaliber van Dean Elgar, Theunis de Bruyn, AB de Villiers en Heinrich Klaasen sou dít nooit genoeg gewees het nie.

Die Spartans het uiteindelik verspotmaklik gewen en selfs ’n bonuspunt verdien deur die teiken in net 15 boulbeurte verby te steek.

Skuif

Die Rocks mis duidelik vir Aiden Markram en JP Duminy in hulle kolforde. Dié Protea-duo is voor die toernooi beseer en het in g’n stryd gespeel nie.

Boulers soos Hardus Viljoen, Dwaine Pretorius en Bjorn Fortuin het al elkeen ’n kans gekry om op te skuif in die kolforde, maar hulle het gemengde welslae behaal.

Daar word verwag dat Kyle Verreynne vandag sal speel en die nodige vonk vir die Rocks met die kolf sal verskaf.

Die eerste bal op die Wanderers word 10:00 geboul.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters