25 dae gelede
Opskorting gee Kings langer blaaskans
PRO14 OP YS: Howard Mnisi van die Kings in aksie teen die Cheetahs.  ~ Gallo Images

DIE Southern Kings en Cheetahs gaan nou ’n langer break hê nadat die Pro14-seisoen ook soos baie ander sportsoorte opgeskort is weens die uitbreking van Covid-19.

Luidens ’n Pro14-verklaring is die seisoen uitgestel sonder ’n terugkeerdatum.

Die Pro14 is ’n inter­na­sionale liga. Reis is dus onvermydelik en bring unieke uitdagings. Aangesien die regerings in Italië en Ierland reeds duidelike riglyne en beperkings rakende openbare aktiwiteite en reis ingestel het, is die besluit om die kompetisie te staak, relevant.

Welsyn

Dis in almal se belang dat daar tans nie wedstryde gespeel word nie. Die opskorting deur die direksie van Celtic Rugby sal voortdurend hersien word.

David Jordan, Pro14-toernooidirekteur, het gesê: “Ons het hierdie besluit geneem met almal se welsyn in gedagte. Met ’n veranderende situasie in die vyf lande wat aan die Pro14 deelneem, is dit belangrik om ’n duidelike besluit te neem wat in pas is met die advies van die verskillende regerings wat betrokke is.”

Die hervatting van die 2019-’20-seisoen sal nou voortdurend hersien word.

Pro14 Rugby het tot dusver verseker dat die jongste inligting en leiding deur die plaaslike en na­sionale owerhede beskikbaar gestel word aan spelersunies in die Verenigde Koninkryk, Ierland, Italië en Suid-Afrika.

Dit sal die geval bly vir die duur van die opskorting. Dis ’n ongekende stap vir die toernooi en daar kan op die oomblik geen einddatum vir die opskorting verskaf word nie.

Die Kings se volgende Pro14-wedstryd sou op 21 Maart in die Nelson Mandelabaai Stadion teen Edinburgh gewees het.

Die Cheetahs sou Leinster ook op 21 Maart in Bloemfontein gepak het.

Die Kings het sover nog net een oorwinning in 13 wedstryde behaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters