22 dae gelede
Onse bokke gly en val
teleurgesteld: Cheslin Kolbe en Faf de Klerk groet hulle fans ná die nederlaag. Foto:REUTERS/Annegret Hilse  ~ 

YOKOHAMA. – Die All Blacks het gisteraand hier voor sowat 72 000 begeesterde toeskouers weereens gewys waarom hulle moeilik by vanjaar se World Cup gestuit sal word.

Die tweemalige kampioen was met 23-13 teen Suid-Afrika baas nadat hy in die rustyd reeds met 17-3 voor was.

Die Bokke het by tye goed gelyk en in die eerste kwart van die stryd die All Blacks met hulle vinnige opskietverdediging ontwrig.

Rassie Erasmus (breier) se span het van meet af volgehoue druk toegepas en vir daai sowat 20 minute die All Blacks gedwing om foute te maak.

Dit help egter nie jy plaas jou opponent onder druk, maar jy kan nie daardie druk in punte omskep nie.

Dit is duidelik dat die Bokke se verouderde skop-en-jaag-taktiek lankal nie meer goed genoeg is om ’n span van gehalte te klop nie.

Die up and under word hopeloos te veel gebruik.

En hier moet die coach die skuld kry vir ’n game plan wat net te voorspelbaar is. Wanneer die All Blacks ál hulle tackles maak, lyk dit asof die Bokke se idees opraak.

Daar is beslis ’n gebrek aan kreatiwiteit, veral in die agterlyn. Die enigste speler wat gister beïndruk het, was die regtervleuel Cheslin Kolbe.

Amok

Die uitgeslape All Blacks het oudergewoonte ál die druk geabsorbeer wat die Bokke hulle kant toe gegooi het.

Steve Hansen (afrigter) se manne het geduldig gebly. Maar toe hulle uiteindelik die geleentheid kry, het hulle onmiddellik toegeslaan en amok gemaak.

Die manne in swart het die telbord aan die rol gekry met twee vinnige drieë binne 10 minute teen die verloop van die spel (deur George Bridge en Scott Barrett) om die rustydtelling 17-3 te maak.

In die tweede helfte het die Bokke teruggeslaan met ’n drie deur die hardwerkende flank Pieter-Steph Toit.

Die drie het gekom ná ’n uitstekende lopie deur die einste Kolbe.

Kolbe was loshande die Bokke se beste agterspeler op die veld. Elke keer dat hy aan die bal geraak het, het hy verwoesting gesaai.

Du Toit se drie en ’n langafstand strafdoel deur Pollard het die Bokke weer binne trefafstand gebring.

Richie Mo’unga (losskakel) en Beauden Barrett (heelagter) het egter die deurslaggewende strafdoele deur die pale laat seil om die finale spykers in die Bokke se doodskis te kap.

Die Bokke kom volgende week in Nagoya teen Namibië te staan. 

puntemakers

NIEU-SEELAND – drieë: George Bridge­, Scott Barrett; doelskoppe: Richie­ Mo’unga (2), strafdoele: Mo’unga (2), Beauden Barrett.

SUID-AFRIKA: drie: Pieter-Steph du Toit; doelskop: Handré Pollard; strafdoel: Pollard, skepskop: Pollard.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters