3 maande gelede
Ons oorsese sterre vat tyd af in Mzansi
AFROMAN: Garth April op pad doellyn toe teen die Sa­ders. Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

SPORT het die afgelope week of twee wêreldwyd tot stilstand gekom weens die verspreiding van die gevaarlike nuwe corona-virus.

Son op Sondag het saam met Gio Aplon en Garth April gesels oor die virus, die gevolge daarvan en die huidige stand van sake in Japan, waar Aplon tans is.

April het vandeesweek na Suid-Afrika teruggekeer.

“Die gevaarligte het op dieselfde tyd begin flikker as toe China dit (die corona-virus) ontdek het,” sê die 37-jarige Aplon via WhatsApp.

Higiëne

“Ek dink dinge het begin handuit ruk toe die Diamond Princess cruise­ ship hier in Tokio was. Toe het mens ál hoe meer begin hoor van die verspreiding van die virus.

“Japan is oor die algemeen baie bewus van higiëne – voor die corona-virus kon jy gereeld mense sien in die malls of openbare vervoer wat maskers dra as hulle byvoorbeeld verkoue het.

“Ons (Aplon, sy vrou en twee kids) is nou maar meestal in die huis. Ons sou gewoonlik sommer loop na die mall of die kinders McDonald’s toe vat om te speel, maar ons vermy dit nou liewer.

“As ons nou mall toe gaan, raai ons maar die kinders aan om hulle hande in hulle sakke te hou en ons sit maar maskertjies aan.

“Verder was ons maar baie ons hande.

“Mense is baie gedissiplineerd hier – hier is nie ’n geval van ’n lockdown nie.”

Hy speel die afgelope paar jaar vir die Toyota Verblitz in Japan se Top League, waar Steve Hansen die direkteur van rugby is.

Willie le Roux, Lionel Cronjé, Carl Wegner, Jason Jen­kins en Reniel Hugo is sy spanmaats.

Die 28-jarige April is die laaste paar dae terug in sy Bolandse tuisdorp, Wellington, nadat hy vanjaar vir die Sunwolves in die Superrugby-kompetisie gespeel het.

“Dis teleurstellend dat ons nie kan speel nie, maar ’n ou se gesondheid kom eerste. Sport vat maar wêreldwyd ’n back seat op die oomblik – wat ek dink ’n goeie ding is omdat dit die verspreiding van die virus in toom kan hou.

“Ons by die Sunwolves het nie juis van die corona-virus aan die begin van die seisoen gepraat nie, maar het al hoe meer bewus daarvan geraak soos dinge op sosiale media gesien is. Ons is aangesê om vita­mins te drink en gesond te bly.

“Ons het toe later ons tuiswedstryde in Australië gespeel, want die Japanse regering wou nie hê ons moet teruggaan (Japan toe) nie en dan wéér uitgaan om wegwedstryde te speel nie.

“Ons is nie aangesê om ons te isoleer nie, maar ons is net weer getoets en daarna die go-ahead gegee om huis toe te gaan. Ek het my egter maar die laaste paar dae geïsoleer, uit die openbaar gebly en doen maar die regte ding,” het die talentvolle losskakel afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters