17 dae gelede
Nóú wil die Sharks vlamvat
STOP! Makazole Mapimpi probeer Scott Barrett met alle mag stuit.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

NÓÚ is die Sharks éérs oorgehaal om vet te gee.

Vrydag se gelykop uitslag van 21-21 teen die magtige Crusaders in Christchurch het Robert du Preez se spelers opnuut aan hulle vermoë herinner.

Dié uitslag het ook gewys hoe die jongste punteleer kon gelyk het as die Sharks nie die afgelope maand so lelik drooggemaak het nie.

Die Sharks het nie verdien om in die 80ste minuut te verloor toe die Crusaders uit die kake van ’n nederlaag ontsnap het nie.

Maar drie drieë teenoor geen wys die Crusaders het ook nie verdien om te verloor nie.

Gebore

Curwin Bosch se koelkopspel op losskakel word nou ’n dilemma vir die span se afrigter, want dit raak ál moeiliker om sy seun, Robert jr., terug te sit in die nr. 10-trui.

Bosch is duidelik ’n gebore los­skakel en die breier kan dit in dié sensitiewe stadium van die seisoen nie eens oorweeg om hom terug te skuif plaasvervangerbank toe nie.

Saterdag wag die Chiefs in Hamilton. Hulle kan hulself solank vet smeer vir ’n Shark-span wat bloed geruik het. Du Preez-hulle behoort die toer met ’n sege af te sluit. 

puntemakers

Crusaders – drieë: Codie Taylor, Jack Goodhue, Mitch Hunt; doelskoppe: Hunt (3).

Sharks – strafdoele: Curwin Bosch (7).


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters