6 dae gelede
Nog baie op spel in Premierliga
FRANK LAMPARD Foto: GETTY IMAGES  ~ 

LIVERPOOL het nou wel dié week sy titeldroogte van 30 jaar beëindig, maar daar is beslis nog baie om voor te speel in die gewilde Engelse Premierliga.

Die Reds kan natuurlik ook nog Manchester City se rekord van 100 punte verbysteek. Die Cityzens het dít in die 2017-’18-seisoen vermag.

Dan sal Jürgen Klopp, manager, se kampioenspan egter minstens vyf van sy laaste sewe stryde moet wen om nóg ’n rekord te laat kantel.

Liverpool en City het intussen ook hul kwalifikasie vir volgende seisoen se Champions League-kompetisie verseker.

Maar dis die wedloop vir die derde en vierde plekke wat als behalwe ’n uitgemaakte saak is.

Chelsea het Liverpool nie net Donderdag ’n guns bewys deur City te klop nie, hy het ook sy aanslag op ’n Champions League-plek vir volgende seisoen aansienlik versterk.

Die Blues (54 punte) se oorwinning met 2-1 oor City verseker dat hy net een punt weg is van die derde geplaaste Leicester City (55).

Oorlewing

Terselfdertyd het Frank Lampard, manager, se Chelsea ook daglig tussen hulle en die vyfde geplaaste Manchester United (49) gesit.

Die Red Devils, Wolves (49), Tottenham (45), Sheffield United (44) en selfs Arsenal (43) voel hulle kan nog aanspraak maak op ’n Cham­pions League-posisie.

Wat die stryd om oorlewing in die Premierliga betref, lyk die laaste geplaaste Norwich City (21 punte) asof hy vir seker weer na die Cham­pionship League gaan uitsak.

Die verlede het bewys dat enige klub wat sukkel om minstens 40 punte in te samel, homself in die relegasie-moeras sal bevind.

Aston Villa, Bournemouth, West Ham (almal 27) tesame met Watford (28) en Brighton (33) veg tans in die liga om oorlewing.

Dié klubs sal sekerlik buig of bars alles in hul vermoë doen om hul status in die liga vir volgende seisoen te verseker – veral vir finan­siële redes en met die Covid-19-pandemie wat reeds hul sakke hard geruk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters