12 dae gelede
Na groot wen oor Zim sal jonges nie slaplê
gee pad voor! Lyle Foster van Suid-Afrika fnuik Shadreck Nyahwa van Zimbabwe. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

SUID-AFRIKA se nasionale o. 23-span het nou een voet in die deur om te kwalifiseer vir die Africa Cup of Nations (Afcon) vir o. 23’s nadat hy Zimbabwe Vrydagaand met 5-0 in die Orlando Stadion geklop het.

Doele deur Luther Singh (2), Kobamelo Kodisang, Teboho Mokoena en Lyle Foster het gesorg dat Suid-Afrika nou ’n goeie voordeel teen Zimbabwe het vir sy tweede stryd.

Die tweede wedstryd vind Dinsdag in die Barbourfields Stadion in Bulawayo plaas.

Die wenners van hierdie ronde kwalifiseer outomaties vir die Afcon-toernooi­, maar dit tel ook vir die kwalifiserende wedstryde vir die Olimpiese Spele in Tokio volgende jaar.

Die Afcon-toernooi vind van 8 tot 22 November in Egipte plaas.

Voorsprong

David Notoane, afrigter van die nasionale o. 23-span, sê al is hy tevrede met sy span se indrukwekkende sege van 5-0, kan die manne van Zimbabwe nie ligtelik opgeneem word in hulle tweede ronde nie.

“Ons is bly dat ons so ’n goeie oorwinning in die eerste ronde kon behaal,” het Notoane gesê.

“Al is dit ’n gemaklike voorsprong, moet ons steeds weg van die huis in die tweede ronde wen.

“Daar is baie wedstryde waar ’n span ’n ronde met ’n gemaklike voorsprong in hulle tweede ronde verloor het.

“Ons kan nie bekostig om dieselfde fout te maak net omdat ons dink dat die werk reeds in die eerste ronde gedoen is nie.”

Notoane het ook gesê die kwalifisering vir vanjaar se Afcon-toernooi sal ’n perfekte platform vir sy spelers wees om hulle talente ten toon te stel en moontlik binne ’n jaar of twee in Suid-Afrika se senior span, Bafana Bafana, te kan plek wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters