3 maande gelede
Mokuena op rugby se ashoop
 ~ 

RUGBY se Varsity Cup word ná 12 suksesvolle jare as ’n teelaarde vir spelers en afrigters beskou.

Dis egter vreemd dat Jonathan Mokuena, wat die kompetisie in 2016 vir die eerste keer saam met die Pukke gewen het, nie ’n pos op ’n hoër vlak kry nie.

Mokuena se kontrak as breier van die Noordwes-Universiteit se Pukke het ná vanjaar se Varsity Cup verstryk. Hy gaan ook nie meer soos in die verlede die Luiperds in die Curriebeker se Eerste Liga afrig nie.

Dit beteken een van die land se beste breiers is werkloos, hoewel hy goeie werk as analis vir SuperSport en kykNET se Superrugby-program doen.

Mokuena is natuurlik genoem as een van die manne wat dalk die Cheetahs in die Pro14-reeks kan afrig nadat Franco Smith se vertrek bevestig is.

Smith sal ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi as afrigter van Italië oorneem.

Maar die voormalige Blitsbok en Superrugbyspeler se ervaring word nou bevraagteken.

Daarom het Mokuena laas week op Twitter geskryf: “Jake White, Eddie Jones en Brendan Venter het bo uitgekom, want iemand het hulle ’n kans gegee. Al wat ek vra, is ’n kans op die volgende vlak.”

Ironies genoeg beklee die meerderheid van voormalige Varsity Cup-afrigters poste op daai vlak waarvan Mokuena praat.

Chean Roux, Varsity Cup-wenner met die Maties, brei deesdae die SA o. 20-span en het ook al as lid van die Springbokke se bestuurspan gewerk.

Mokuena was vir ’n rukkie ’n lid van die Junior Springbokspan, wat onder die vorige afrigter, Dawie Theron, in 2012 die Junior Wêreldtoernooi gewen het.

Mokuena ding mee met Hawies Fourie, huidige afrigter van die Maties, vir die pos as afrigter van die Cheetahs.

Dit blyk egter dat Fourie die pos gaan kry, terwyl Mokuena waarskynlik elders in die land met ’n pos as hulpafrigter tevrede sal moet wees.

Hy is ook verlede jaar oor die hoof gesien vir ’n groot pos by die Griekwas. Brent Janse van Rensburg het dié job gekry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters