6 dae gelede
Meer as ’n breier
KEN SY STORIE! Peter Smith is vandag ’n hoogs suksesvolle afrigter. Foto’s: NICK LOURENS  ~ 

BOKSAFRIGTERS is deesdae baie meer as net ’n stem in die hoek.

Trouens, afrigters soos Floyd Mayweather sr., Freddie Roach, Chepo Reynoso en Abel Sanchez het die laaste paar jaar net so bekend geword soos boksers van gehalte, soos Floyd Mayweather, Manny Pacquiao, Gennady Golovkin en Canelo Álvarez.

Hulle is nie net afrigters nie, hulle is ook kenners, vriende, vertrouelinge en beskermhere.

In Suid-Afrika is die patroon presies dieselfde.

Afrigters soos die veterane Harold Volbrecht, Lionel Hunter en Manny Fernandez is net sulke bekende gesigte soos die jonger generasie, Alan Toweel jr, Damien Durandt, Peter en Sean Smith, Colin Nathan, Sebastiaan Rothmann, Anton Gilmore en Vusi Mtolo.

Dan is daar ook nog Mzamo Njekanye en Ncedo Cecane uit die Oos-Kaap wat hul stempel afdruk.

Toweel jr. is lid van Suid-Afrika se bekendste boksfamilie. Sy oupa Mike, wat as Papa Toweel bekend was, het diep spore getrap saam met sy pa, Alan, en ooms Willie en Maurice. Papa Toweel het ook sy seun Vic tot die wêreld se kapokgewigtitel gebrei.

’n Familie soos dié kom een keer in ’n leeftyd.

Willie Toweel het die wêreldkampioen Piet Crous, Sugar Boy Malinga en Brian Mitchell (in sy eerste 19 gevegte) afgerig.

Toweel jr. sê hy was sedert vyfjarige ouderdom gereeld saam met sy pa in die gym.

“Ek het ontsettend baie by my pa geleer. Wanneer ons oorsee gereis het, het ek legendes soos Angelo Dundee en Eddie Futch ontmoet.

Passie

“Ek het ook aand ná aand saam met my pa na ou films gekyk. So het ons albei ook geleer,” het hy op Golden Gloves se website gesê.

Damien Durandt, seun van die legendariese Nick Durandt, sê sy pa het baie tyd in Amerika deurgebring nadat hy deur Willie as breier grootgemaak is.

Wyle Nick het in sy roemryke loopbaan 38 wêreldkampioene opgelewer. Hy was Suid-Afrika se suksesvolste afrigter tot nog toe. Hy het ’n ongelooflike passie gehad om kampioene te kweek.

Durandt jr. sê hy het sy pa sedert die ouderdom van 14 in die hoek bygestaan.

Daar word ook met groot lof gepraat van Mzimasi Mnguni, wat sedert verlede jaar ernstig siek is en tans in ’n rolstoel is.

Mnguni, wat as “Bra Mzi” bekend is, het Oos-Londen in ’n boksfabriek omskep wat talle nasionale en internasionale sterre opgelewer het.

Sy afwesigheid in die hoek word gevoel.

Peter Smith, seun van die voormalige Suid-Afrikaanse ligswaargewigkampioen Kosie Smith, het met ’n ompad ’n afrigter geword, maar word nou hoog aangeslaan.

Hy sê hy het ná 22 beroepsgevegte uitgetree en wegbeweeg van die sport.

“Ek het nooit ’n behoefte gehad om af te rig nie.

“Dis vir ’n bokser moeilik om vanuit ’n ander angle by die sport betrokke te raak.

“Ek het eendag skielik besluit om Ruben Groenewald uit te help vir ’n geveg teen Daniel Bruwer. Dit sou net hierdie één geveg gewees het.

“Ek net ses weke gehad om met hom te werk.

“Groenewald het egter baie goed gedoen – totdat hy ’n asma-aanval gehad en dit hom die geveg gekos het.

“Baie mense het egter gesê ek het ’n groot verskil gemaak.

“Daarna het ál meer boksers gevra ek moet hulle afrig,” sê Smith.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters