18 dae gelede
Masuku bly hoopvol
Siya Masuku FOTO verskaf  ~ 

DIE corona-virus-pandemie kon nie op ’n slegter tyd gekom het vir een van die Southern Kings se toekomstige sterre nie.

Siyabonga Masuku was op die punt om op losskakel te begin vir die Kings se volgende Pro14-wedstryd teen Edinburgh wat dié naweek gespeel sou word.

Weens die Covid-19-chaos is hy nou natuurlik sy kans kwyt.

Hierdie voormalige Lions-speler het ook net op dreef gekom ná ’n goeie ver­toning teen Connacht. Hy het voor dit gesukkel met ’n ligte besering.

Maar met Demetri Catrakilis en Bader Pretorius beseer, was Masuku tans die Kings se enigste opsie op losskakel.

Dié boorling van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal sal egter nou ongelukkig heelwat langer moet wag vir daai speelkans.

Hy vertel hy het reeds lank nie gespeel nie. Dit was natuurlik toe sy kontrak met die Lions vroeg in 2018 kortgeknip is weens ’n besering.

“Ek het ’n gebreekte toon gehad en het by die huis gesit.

“Ek het wel weer begin Gold Cup speel en dit is in dié tyd dat ek toe begin rondvra of daar nie ’n kans is vir my by enige spanne nie,” het Masuku gesê.

Hy’t in April met sy Gold Cup-span, Rustenburg Impala, hulle derde Gold Cup-titel in vyf jaar gewen danksy ’n oorwinning met 37-31 oor Durbanville-Bellville in die eindstryd in Rustenburg.

Masuku het drie doelskoppe in die wedstryd oorgesit.

Hy sê ná dié wedstryd het hy ernstig met die Kings begin gesels.

“Ek is natuurlik bly vir my span en die vertoning wat ons gelewer het. Dit het gehelp dat ek weer raakgesien is.”

Hy het ook ’n interessante bynaam: Cooper. Dit, vertel hy, kom van die bekende Australiese losskakel Quade Cooper.

“Dit is net ’n bynaam wat my skoolmaats my gegee het omdat ek op losskakel gespeel het.”

Met ’n bynaam soos Cooper word daar dus groot dinge verwag van dié 23-jarige.

“My plan is om die nommer een losskakel by die Kings te word,” borrel hy.

Cooper sê ook dat die Kings tans sukkel, maar hulle sal in die toekoms beter vertoon.

“Ons is in ’n boufase met baie jong spelers soos myself en ’n paar seniors wat ons probeer lei. Daarom dink ek is die uitslae nie waar dit moet wees nie. Ek dink wel dat ons in die komende seisoene baie beter sal vertoon.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters