17 dae gelede
Manny lus vir wintie
VUURWERK: Manny Pacquiao en Keith Thurman op ’n nuuskonferensie. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

EK GAAN Keith Thurman se groot bek stil slaan.

Dís die waarskuwing wat die Filippynse boksheld Manny Pacquiao aan die Amerikaner gerig het voor hulle WBA-superweltergewig-titelgeveg op 20 Julie in Las Vegas.

Thurman is met sy bek-oorlog besig om die dinges uit Pacquiao te irriteer.

Thurman (30) is ná 29 gevegte onoorwonne, terwyl Pacquiao (40), ’n veteraan van 70 gevegte, 61 keer aan die wenkant was. Hy het 39 teenstanders uitgeslaan.

Thurman se bekgeveg ken g’n einde nie. Hy sê Pacquiao gaan moet uittree wanneer hy klaar is met hom.

“Ek gaan hom kruisig, want hy het nog nie teen iemand so jonk, sterk en honger geboks soos ek nie,” sê hy.

Pacquiao het in Manila, waar hy voorberei, aan joernaliste gesê Thurman is “uiters arrogant en grootbek buite die kryt.

Nederig

“Kom ons kyk of hy binne die kryt ook so grootpraterig gaan wees.

“Party boksers is arrogant en ander nederig. Ons almal ken vir Keith. En ja, almal weet hy is arrogant.

“Hoe meer hy praat, hoe meer motiveer hy my.

“Ek sal eerder dat my vuiste die praatwerk doen.”

Aan die einde van verlede jaar het dit inderdaad gelyk asof Pacquiao se loopbaan einde se kant toe staan, maar sedertdien het hy Lucas Matthysse uitgeslaan en Adrien Broner met punte geklop.

Pacquiao beplan om sy oefenkampe tussen die Filippyne en Los Angeles te verdeel waar hy onder die wakende oog van Freddie Roach, sy jare ­lange afrigter, oefen. Pacquiao sê hy sal op 15 Junie na Los Angeles vertrek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters