10 dae gelede
Magerman mik na 2021 se spele
Gezelle MagermanFoto’s: REG CALDECOTT  ~ 

GEZELLE Magerman, ’n voormalige Olimpiese jeugkampioen, sal nie aftree voordat sy 100% seker is sy het alles in haar loopbaan as 400 m-hekkies­atleet gegee nie.

“Die laaste ding wat ek wil hê, is dat ek eendag spook met die woorde ‘wat as?’. Die dag wanneer ek my spykerskoene vir ewig bêre, is wanneer ek weet dat ek my droom uitgeleef het,” verduidelik hierdie 23-jarige Tukkies-atleet.

Sy sê haar lewe was die laaste paar jaar ’n regte roller coaster ride.

Magerman het gereelder as wat sy graag wou, teleurgestel met haar vertonings.

Dit sou maklik gewees het om op te hou. Sy het immers haar plek in Suid-Afrika se sportgeskiedenis ingemessel toe sy in 2014 goud by die Jeugspele in Nanjing verower het.

Magerman het ook naam gemaak as ’n internasionale model. In 2015 was sy een van ag vroue wat deur die SA vrouetydskrif Glamour vereer is.

Maar tans is dit steeds atletiek wat haar opgewonde maak. Dit laat haar adrenalien pomp om die perfekte hinderniswedloop te hardloop.

Die sportsielkunde-student glo vas sy kan vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio kwalifiseer.

Dit beteken sy sal met meer as 2 sekondes op haar persoonlike beste tyd van 57,75 sekondes moet verbeter wat sy in 2016 opgestel het. Magerman glo dis uitvoerbaar.

Haar selfvertroue spruit uit haar opleiding by Tuks met die voormalige jeug- en junior 400 m-hekkieskam­pioen Zenéy van der Walt, sowel as deur Maritza Coetzee se afrigting.

“Ek sien Zenéy nie as ’n mededinger nie. Sy is ’n vriendin wat dieselfde doelwit het as ek. Sedert ek met Zenéy begin oefen het, het ek besef dat daar altyd ruimte is vir ver­betering. Dit is opwindend.

“Coach Maritza het my hele persepsie oor wat dit verg om ’n kampioen te wees, verander. Ek was ’n ego­sentriese atleet. Alles moes om my en my sukses gaan.

“Dis wat my coach my geleer het. Om selfgesentreerd te wees sou my nooit gelukkig maak nie. Dit is die beste les wat ek nog ooit geleer het.

“Nog ’n belangrike ding wat ek geleer het, is dat as jy die harde werk doen, daar geen rede is om in jou vermoëns te twyfel nie.”

Uitdaging

Volgens die Tukkies-atleet moet sy voortdurend aan haar uithouvermoë werk.

“Ek’s baie lief vir 400 m-hekkies. Die uitdaging is om volkome gefokus te wees om so vinnig moontlik oor 10 hekkies te hardloop. Dit maak my opgewonde.

“Die werklikheid is egter dat jy so sterk moontlik in die laaste stadium van die wedloop moet wees.

“Dit is iets waarmee ek sukkel. My coach het my daaraan laat werk en ek voel wel dat ek sterker word.”

Magerman hou ook daarvan om haarself in die 100 m-hekkies te toets.

Sy glo dat sy dit voortaan meer gereeld moet doen om haar spoed te verbeter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters