3 maande gelede
Maak reg, Proteas
faktor: Imran Tahir vier ’n paaltjie teen Engeland. Foto: AP PHOTO  ~ 

SUID-AFRIKA se krieketkamp het seker nie gedink hy sal só gretig wees om Bangladesj vandag te pak nie.

Die Proteas wil egter so gou moontlik in vanjaar se Wêreld­beker-toernooi op die wenpad kom en hulle foute regmaak.

In hulle eerste wedstryd is die Proteas vernietig deur die gunsteling-span om die Wêreldbeker te wen – Engeland.

Die Proteas hoef seker nie té sleg te voel oor die nederlaag nie, want dit was immers teen ’n baie sterk span.

’n Mens het egter darem verwag die Proteas sou beter meeding as om met ’n allemintige 104 lopies te verloor.

Suid-Afrika se kaptein, Faf du Plessis, stem saam en daarom wil die Proteas vandag op The Oval in Londen ’n paar sake teen Bangladesj regstel.

“Ons moet die aspekte takel waarin ons nie goed was teen Engeland nie en ons moet vorentoe kyk,” het Du Plessis gesê.

Een van die dinge wat die Proteas wil beter doen, is om hulle kolfbeurt goed te begin.

Du Plessis meen teen Engeland was dit ’n sleuteloomblik toe Ha­shim Amla die veld tydelik verlaat het nadat hy teen die kopskerm geboul is.

Dit het gelei tot ’n mini-ineenstorting, maar die Pro­teas kan met ’n sterk vertoning vandag die selfvertroue in hulle kolfwerk herstel.

Jacques Kallis, die Protea-legende, was krities oor die kolfwerk, maar stem saam Amla se besering was ’n terugslag.

“Daarna het paaltjies geval wat te maklik weggegee is,” het die voormalige veelsydige ster gesê.

Kallis verwelkom egter ook die wedstryd teen Bangladesj wat die Proteas kan gebruik om momentum op te bou. “Wanneer jy verloor het, wil jy so gou moontlik weer speel en dis great om dit teen Bangladesj te doen.”

Kallis voel die Proteas het ’n boulaanval wat baie spanne probleme sal gee. Daar is baie opsies en die boulers wissel hulle aflewerings goed af.

Interessant

Du Plessis is vol vertroue sy boulaanval sal met Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en die draaier Imran Tahir aan die spits die Bangladesj-kolwers onder groot druk plaas.

Dit sal interessant wees om te sien of die Proteas van hulle ervare manne vandag ’n ruskans sal gee omdat Bangladesj as een van die minder goeie spanne in die toernooi beskou word.

Amla het geen skade oorgehou van die bal teen sy kopskerm nie, maar Dale Steyn (skouer) sal dalk steeds moet uitsit.

Begintyd: 11:30 SA tyd;

TV: DStv se sportkanaal 202.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters