22 dae gelede
Losskrums ‘hou groot risiko in’
BEDUIE: Wilbur Kraak stel ’n punt.foto’s verskaf  ~ 

DIE veiligheid van spelers by die afbreekpunte (rucks) behoort nie net die skeidsregter se verantwoordelikheid te wees nie.

Só sê dr. Wilbur Kraak, ’n sportdosent van die Universiteit Stellenbosch, oor die gedurige ongeoorloofde spel in dié belangrik faset van rugby.

Dit volg nadat Kraak, in samewerking met die Universiteit van Bath in Engeland, onlangs ’n studie hieroor voltooi het.

Hy het Superrugbywedstryde van verlede seisoen bestudeer en bevind dat meer as 50% van die oortredings in die rucks nie raakgesien word nie.

Kraak meen die spel se beheerliggaam, World Rugby, die afrigters én spelers moet die skeidsregters help om dié probleem te tackle.

Hy sê daar is gemiddeld 180 rucks per Superrugbywedstryd, met 2 tot 3 cleaners.

Dit beteken dat dié spelers – die cleaners – tussen 360 en 540 keer in ’n onveilige situasie is.

Kraak meen: “Die realiteit is dat die skeidsregter die situasie by talle rucks in ’n wedstryd moet beoordeel.

“’n Mens kan dus nie verwag dat net hy verantwoordelik moet wees daarvoor dat ongeoorloofde spel in dié faset uitgeroei word nie.”

Kraak voel sterk dat die partye wat reeds genoem is, soos World Rugby, ook verantwoordelikheid moet aanvaar vir die veiligheid van die spelers in die rucks.

Hy meen die spelers sluit hulle soms met net te veel aggressie by die rucks aan en die aanvallende span neem nie altyd die veiligheid van teenstanders in ag nie.

Kraak het in sy studie bevind minstens 10% van alle rugbybeserings word in die rucks opgedoen.

Nóg ’n kommernis wat hy uitwys, is dat die wen-ten-alle-koste-mentaliteit daartoe bydra dat spelers oormatig aggressief in die rucks is.

Hy meen hierdie wen-kultuur word al by rugbyspelers op skool aangekweek.

Kraak sê spelers is 20 jaar gelede nie so baie beseer nie, maar die tegnologie is deesdae so gevorderd en van die manne bench tot 150 kg.

Hy meen dis ook nie reg dat sekere kenners van die spel en voormalige professionele spelers die wen-ten-alle-koste-benadering in die sosiale media bevorder nie.

Kraak meen: “Sekere oudspelers bevorder die hit-the-ruck-hard-benadering, en dít is soos petrol op die vuur.

“Alle spelers – aanvallers én verdedigers – moet in die rucks beskerm word. Dít moet die benadering wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters