21 dae gelede
Lions verneder Stormers
Drieëvraat: Kwagga Smith, agsteman van die Lions, druk gister een van sy twee drieë teen die Stormers. Foto: Gallo Images  ~ 

DIE Lions kon nog nie vanjaar ’n Suid-Afrikaanse span in die Superrugby-kompetisie klop nie.

Maar die span van Malcolm Marx, kaptein, het dit egter gister op Ellispark op oortuigende wyse reggekry deur die Stormers met ’n allemintige 41-22 af te slag.

Die Lions het ses drieë teenoor die drie van Robbie Fleck (afrigter) se span gedruk. Die rustydtelling was 13-10 in die tuisspan se guns.

Kwagga Smith, agsteman van die Lions, het nie net uitstekend met sy flank Vincent Tshituka gekombineer nie, maar in alle aspekte van losvoorspelerspel geskitter. Sy besonderse werkverrigting is welverdiend met twee drieë beloon.

Tshituka is agterna as speler van die wedstryd aangewys.

Fleck sal seker die verskoning gebruik dat die beseringspook sy span behoorlik geteister het.

Die Kapenaars het nie net laas week hul kaptein, Siya Kolisi, en Bok-flank Pieter-Steph du Toit verloor nie, maar die haker Scarra Ntubeni se onttrekking voor gister se game het dinge verder ontwrig.

Puik

Om sake verder te bemoeilik, het die ervare Bok-slot Eben Etzebeth sy hand in die eerste helfte gebreek. Hy is in die rustyd met die debutant Marno Redelinghuys vervang.

Dit het egter niks weggevat van die Lions se puik vertoning nie.

Swys de Bruyn (afrigter) se span het met voortreflike spel vorendag gekom. Sy manne het welverdiend as oorwinnaars uit die stryd getree.

Die Stormers se verdediging was by tye uiters swak, terwyl die Lions ál hulle geleenthede baie beter benut het.

Met dié sege het die Lions opgeskuif na die tweede plek op die SA afdeling van die log, met die Stormers in die laaste plek.

Als is egter nog nie vir die Stormers verlore nie. Dit gaan egter baie moeilik vir die Kapenaars wees om steeds die uitspeelrondes te haal.

Die Lions kom volgende week teen die Hurricanes te staan, terwyl die Stormers die Sunwolves op Nuweland gaan aandurf.

puntemakers

LIONS – drieë: Kwagga Smith (2), Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Aphiwe Dyantyi, Hacjivah Dayimani; doelskoppe: Shaun Reynolds (4); strafdoel: Reynold.

STORMERS – drieë: Johan du Toit, Herschel Jantjies, Josh Stander; doelskoppe: Stander (2), strafdoel: Stander.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters