27 dae gelede
Levy het Library vol skills vir Stormers
Labeeb Levy.  ~ Verskaf

SY JOB is om die spelers toe te rus met ’n biblioteek vol vaardighede.

Volgens Labeeb Levy, die nuwe vaardigheidsafrigter en tegniese ontleder van die Stormers, moet die spelers net die regte boek kies en besluit wanneer hulle daardie vaardighede in ’n sekere wedstryd-situasie gaan toepas.

Levy het in sy speeldae ’n reputasie opgebou as ’n uiters vaardige losvoorspeler. Die voormalige hoofafrigter van SK-Walmers, Silvertree en Collegians is ook al jare lank betrokke as ’n touch rugby expert in Suid-Afrika. 

Aanvallend: Labeeb Levy was in sy speeldae bekend as ’n uiters vaardige speler.

Sy waarde as coach is destyds deur Rassie Erasmus, die Bokke se direkteur van rugby, raakgesien toe hy die Stormers se direkteur van rugby was.

Levy is dus ’n uiters ervare coach wat al 12 jaar in die Westelike Provinsie Rugbyunie se strukture werk.

Voor sy aanstelling as die Stormers se skills coach, het hy die rol vervul van WP Rugby se opvoeder van afrigters vir vlak 1, 2 en 3.

Die 47-jarige het sy vlak 3-kwalifikasie reeds drie keer deur Wêreldrugby, SA Rugby en in Auckland, Nieu-Seeland, verwerf.

Hy het in die buiteland gaan besoek gaan aflê by Murray Mexted se akademie in Nieu-Seeland, waar hy ook by verskeie rugbyligaklubs gaan kers opsteek het om sy kennis te verbreed.

Levy het vandeesweek ’n insig by die Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gegee oor sy nuwe rol by die Kaapse franchise.

Hy sê: “Ja, die Stormers is gelaai met Springbokke wat al ’n World Cup gewen het. Dit beteken egter nie dat hulle volmaakte spelers is nie. Hulle kan uiteraard nog baie leer.

“Wanneer jy deur die coaching-proses gaan, sal jy vind dat almal ’n aspek van hulle spel het waaraan hulle kan werk. My job is om te kyk hoe ek die individu kan ver­beter.

“Gelukkig vir my het ek die meeste van die spelers deur die jare op o. 19-, o. 20- en o. 21-vlak asook in die Vodacombeker afgerig. Ek ken hulle almal dus baie goed.

“Vir my maak dit kommunikasie met hulle net ’n bietjie makliker.

“Die spelers het almal opinies en ek moet daardie opinie in aanmerking neem. Daar is egter geleentheid vir hulle almal om te verbeter.

“Ek probeer die druksituasies op die oefenveld naboots. Ek werk ook tans in kleiner groepe met hulle wat dit makliker maak om te kommunikeer en hulle te motiveer.”

Levy se hoofdoelwit is om die mindset van spelers te verander sodat hulle die nodige selfvertroue kan hê om hulle vaardighede op die speelveld uit te leef.

“Dit gaan alles oor die spelers se geestelike ingesteldheid.

“Ek moet seker maak dat ek die spelers se vaardighede opskerp sodat hulle met ’n biblioteek vol opsies sit.

“Hulle moet dan net die nodige selfvertroue hê om die regte boek te kies volgens die situasie op die speelveld.”

Levy glo plaaslike spelers hoef geensins terug te staan vir die Kiwi’s wanneer dit by vaardighede kom nie. “Ek glo ons spelers is net so atleties met soortgelyke vaardig­hede. Die verskil in Nieu-Seeland is dat hulle meer op vaardighede fokus. 

Mindset: Levy glo spelers moet geestelik reg ingestel wees vir ’n aanvallende benadering.

Afskop

“Wanneer jy met ’n coach daar praat, sal hy vir jou sê hy wil ’n span hê wat met meer vryheid speel en die bal meer aangee.

“Hulle wil aanval en ek dink hulle bring dit in hulle spel in.

“Die ingesteldheid daar is om soveel moontlik te attack.

“Ek wil graag hê ons spelers moenie skroom om aan te val nie. En ek berei hulle daarvolgens voor,” verduidelik hy.

  • Die Stormers kry volgende week kans om hulle vaardighede op die proef te stel wanneer hulle hulle Superrugby-veldtog teen die Hurricanes op Nuweland afskop.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters