28 dae gelede
Laurian: Rugby bly my passie
DOELGERIG: Laurian Johannes is vol vertroue sy gaan ’n suksesvolle coach van die SA o. 20-rugbyspan wees. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

1. LAURIAN Johannes, wat is jou vroegste rugby-herinnering?

My liefde vir die game het begin toe ek die World Cup in 1995 met my ouers dopgehou het.

2. Watter ander sportsoorte het jy as kind beoefen?

Op laerskool het ek netbal gespeel en op hoërskool was ek ’n atleet. Ek was maar altyd groter as almal en het aan hamergooi en gewigstoot deelgeneem.

3. Wie was jou rolmodelle?

My anties was my rolmodelle. Hulle was go-getters en het alles gedoen wat nodig was om in die lewe suksesvol te wees.

4. Waar het jou rugbyloopbaan begin?

Ek het rugby begin speel by die UWK nadat ek by die Hoërskool Athlone in Bridgetown gematrikuleer het. Ek het in 2004 vir die WP begin speel en ophou speel nadat ek in 2010 my 50ste game vir die Streeptruie gespeel het.

5. Wat was jou hoogtepunte as rugbyspeler?

My 50ste game teen SWD en die 2010 World Cup in Surrey in Engeland was baie spesiaal.

6. Wat beteken dit vir jou om die eerste vrouebreier van ’n nasionale SA span te word?

Dit is ’n fantastiese geleentheid. Ek is oorweldig dat SA Rugby die geloof en vertroue in my het. Ek is vol vertroue ek sal die job na die beste van my vermoë doen.

7. Wat sê jy vir mense wat glo rugby is nie ’n sport vir vroue nie?

Dit maak nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie. ’n Rugbyspeler bly ’n rugbyspeler. Ons is almal baie lief en passievol oor die game.

8. Wat gaan dit verg vir die Springbok-vrouespan om ’n krag in wêreldrugby te word?

Ek glo die span moet soveel moontlik internasionale rugby speel. Hoe meer toetse die span speel, hoe meer blootstelling sal die spelers kry.

9. Watter rugby coach beïndruk jou die meeste?

Ek is ’n groot fan van Eddie Jones. Hy is tegnies briljant en gaan baie verder as net die game. Ek glo hy is spesiaal.

10. Wat doen jy wanneer jy nie rugby afrig nie?

Ek is ’n onderwyser by die Hoërskool Athlone, wat ek self bygewoon het.

Ek trou in September met Sean Hoeft en is baie excited oor dit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters